Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 36

Spreuke 7:6-23

Bybelteks(te)

6Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit

7en ek sien mense wat nog baie moet leer;

ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman

8wat oor die straathoek stap

en die pad na 'n vrou se huis toe kies.

9Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe.

10Daar kom die vrou hom tegemoet;

sy dra die klere van 'n prostituut,

sy is 'n vrou met listige planne.

11Sy is luidrugtig en uitdagend,

haar huis is te nou vir haar;

12sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine,

sy staan op loer by elke hoek.

13Sy gryp die jongman en soen hom,

onbeskaamd sê sy vir hom:

14“Ek moes maaltydoffers bring

en ek het vandag juis my geloftes betaal.

15Daarom het ek jou kom soek,

ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.

16Ek het 'n deken oor my bed gegooi,

'n deken van bont Egiptiese linne;

17ek het my bed besprinkel

met mirre, aalwyn en kaneel.

18Kom ons drink van die liefde tot die môre toe,

ons gee ons oor aan die liefdeslus.

19My man is nie tuis nie,

hy is op 'n lang reis;

20hy is weg met 'n vol beurs

en kom eers met volmaan terug.”

21So laat sy die jongman swig vir haar listigheid,

so verlei sy hom met haar gladde tong.

22Hy loop sonder weerstand agter haar aan

soos 'n bees op pad slagpale toe.

Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang

23en netnou kloof 'n pyl sy lewer.

Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg,

so is hy daarmee heen voor hy dit weet.

SPREUKE 7:6-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa dramatiseer die pad van verleiding.

Die slagoffer is ’n willose slaaf van sy begeertes.

Die verleidster is ’n meester om haar doel te bereik. Haar taktiek tot op die fynste detail uitgewerk. Trek sy aandag, vertel ’n storie, gooi ’n geestelike sousie oor, laat hom spesiaal voel, stimuleer sy verbeelding met haar voorstelle, belowe dat niks hiervan sal uitlek nie … en hy val daarvoor soos ’n voël vir ’n net.

En dit kos hom sy lewe, want die wet het die doodstraf vir losbandigheid en owerspel voorgeskryf (vgl Lev 20:10; Deut 22:22).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS