Skatkis van wysheid – Dag 9


Die wysheid nooi uit
Bybelteks(te)
SPREUKE 9
PSALMS 52
God is goed
“Wysheid het vir haar ʼn huis gebou met sewe klippilare. Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: ‘Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!’ En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê: ‘Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het!’ ” Spreuke 9:1-5
Vir wie is hierdie maaltyd? Luister na die dienaars van wysheid. Hulle nooi slegte mense en verstandelose mense. Dit is mense wat min kennis het om die Here te dien. Sulke mense word na die maaltyd genooi, net soos Jesus die tollenaars en die sondaars na sy tafel genooi het.
Dit word tog ʼn wonderlike geselskap wat om die tafel van Wysheid kom sit. Sondaars, swakkelinge, niksnuts, bedrieërs en rondlopers. ʼn Mens sou verwag dat diegene wat by die tafel aansit darem eers hulle lewe moes verander en regruk. Tog mag die sondaars net so aansit. Niemand hoef hulle eers “reg te ruk” en te verander nie. Op elke sitplek aan die tafel staan geskryf: gereserveer vir ʼn goddelose. Mense wat so oor hulleself dink, kan gratis gaan sit. Is Jesus nie ʼn goeie gasheer nie?
Dit is interessant om te sien dat die dienaars van hoë plekke roep na die mense wat ver staan sodat hulle ook kan hoor. Al is hulle nie letterlik ver nie, staan hulle soms figuurlik ver, skepties teenoor Jesus – soos die tollenaar wat ver gestaan het, skepties oor Jesus se prediking en lewe (Lukas 18:13).
Die mense wat kom aansit om te eet en te drink, kry kosbare voedsel. Van versoening en vergewing, tot herstel en vernuwing. Van ewige lewe. Aan hierdie tafel is daar genoeg. Die beker loop oor (Psalm 23:5).
Daar is ook blydskap aan die tafel. Die wyn wat gedrink word, verheug die harte. In die wyn lê daar iets feesteliks. Daar is ʼn gemoedelikheid onder die gaste wat mekaar heel moontlik nie eers ken nie. Hulle voel tuis en welkom.
Na die ete staan die gaste op vol verwondering. Hulle kan verder op hul lewensreis gaan. ʼn Dankbare lied is in hulle harte en hul sing: “Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het. Voor u dienaars sal ek u Naam prys, want U is goed.” (Psalm 52:11)