Skatkis van wysheid – Dag 2


Die vrees van die Here
Bybelteks(te)
SPREUKE 1
“Kennis begin met die dien van die Here …” Spreuke 1:7 (1983-vertaling)
“Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis …” Spreuke 1:7 (1953-vertaling)
Die “vrees van die Here” is die tema van Spreuke. Salomo laat hierdie lig op die lewe skyn om ons van die wieg na die graf te lei. Keer op keer sal dit duidelik word wat in Spreuke 1:7-8 geskryf staan: “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” Wanneer ʼn mens oor hierdie tema nadink, is ons eintlik besig om ʼn geheim te ontrafel. Die ontrafeling sal as ʼn verrassing vir ons kom.
Hierdie spreuk bestaan uit twee dele. Die twee dele kan ʼn parallel vorm, maar dit kan ook ʼn teenstelling inhou. Laasgenoemde is op hierdie spreuk van toepassing. Die teenstelling onderstreep wat Salomo wil sê, naamlik dat die ware kennis (wysheid) die wonderlikste geskenk van God is en dat dit dwaas is om om hierdie geskenk te verag.
Die vraag waarna ons moet kyk, is die volgende: Wat verstaan Salomo onder kennis (wysheid)? Is ware kennis om ʼn goeie verstand te hê, ʼn sterk geheue, ʼn bekwaamheid tot oordeel? Dit is nie ware kennis nie. Dit is ʼn seën as ʼn mens al hierdie gawes besit, maar die ware kennis of wysheid is ver bo dit. Is ware kennis dan die kuns om ander met sluheid te vang? Dit is duidelik dat dit niks met ware kennis te make het nie.
Die verskil tussen ware en vals kennis is dat ware kennis van bo kom en vals kennis van onder. Ware kennis kom van God en vals kennis kom vanuit die sondige mens op. Salomo noem ware kennis heel betekenisvol “die vrees van die Here.” Ware kennis ontstaan as ʼn mens luister na wat God in sy woord sê. Ware kennis is verstrengel met geloof. Geloof ontstaan uit die hoor van God se woord. So is ook die ware kennis uit die Woord.
Wanneer ʼn mens die woord van God hoor en ter harte neem, dan breek daar by jou en my ʼn ware kennis deur. Dit is ʼn kennis en wysheid deur die verligting van die Heilige Gees.