Skatkis van wysheid – Dag 1


Die vrees van die Here
Bybelteks(te)
SPREUKE 1
1 KONINGS 3
Salomo se raad aan twee prostitute
1 KONINGS 4
Salomo se wysheid
1 KONINGS 10
“Kennis begin met die dien van die Here …” Spreuke 1:7 (1983-vertaling)
“Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis …” Spreuke 1:7 (1953-vertaling)
In Gibeon staan ʼn jong man op sy knieë. Dit is koning Salomo. Hy bid tot die Here vir wysheid om sy volk te regeer. God gee hom die wysheid op so ʼn besondere manier dat die wysheid van Salomo tot vandag toe spreekwoordelik is. Met sy eerste regspraak blyk sy wysheid al: “Toe beveel die koning: ‘Bring vir my ʼn swaard!’ Hulle het die swaard gebring, en die koning het gesê: ‘Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ʼn helfte!’ ” (1 Konings 3:16-28)
In 1 Konings 4:29 lees ons: “God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.” Ons lees ook dat Salomo drieduisend spreuke en meer as ʼn duisend liedere geskryf het. Salomo se roem het oor die hele wêreld bekend geword. Selfs die koningin van Skeba het daarvan gehoor en hom besoek. In 1 Konings 10:7 sê sy: “Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie.”
In die Bybel is Salomo ook die skrywer van Spreuke, Prediker en Hooglied. Spreuke bevat ʼn skatkis van wysheid waaroor ek in hierdie maand wil gesels. Dit kan met ʼn snoer pragtige pêrels vergelyk word – soms in die vorm van beeldspraak en soms direk. Die spreuke kan op ons alledaagse lewe toegepas word. Salomo staan met sy voete op die grond terwyl sy hart van die openbaring van God getuig. Onthou, God het hom hierdie wysheid gegee. Hy praat nie as ʼn sedeprediker nie, maar soos ʼn vader wat sy seun of dogter onderrig.
Sy spreuke raak alle situasie en fasette van die lewe: die huwelik, die gesin, die lewe van jongmense, werk, eet en drink. Oor al hierdie situasies laat Salomo die lig van God se openbaring skyn en lei op so ʼn manier die leser op die pad van die lewe.