Skatkis van wysheid – Dag 3

Die vrees van die Here

Bybelteks(te)

SPREUKE 1

7Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.

PSALMS 86

11Leer my u pad, Here,

ek wil wandel in u waarheid;

leer my U met toewyding dien.

PSALMS 86:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Kennis begin met die dien van die Here …” Spreuke 1:7 (1983-vertaling)

“Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis …” Spreuke 1:7 (1953-vertaling)

Ware kennis is die “vrees van die Here.” Let daarop dat daar nie staan dat God gevrees moet word nie, maar die Here. “Here” is die verbondsnaam van God. Die Here is die God wat heilig is, maar ook barmhartig en vol liefde. Die God wat Hom met sondige mense besig hou deur met hulle ʼn verbond te sluit. Om hierdie God te vrees is die ware kennis (wysheid).

Wat moet ons van hierdie “vrees” verstaan? Beteken dit dat daar by ons ʼn angs oor God moet wees? Nee. Heidene sidder voor hulle afgode, maar voor God hoef ons geen angs te hê nie. Om die Here te vrees is iets anders. Dit is in die eerste plek om ʼn besef te hê van God se heiligheid. Dit is nie angs nie, maar ʼn eerbiedige bedeesdheid. Dit is ʼn besef van sy majesteit waarvoor ons as skuldige mense nie kan bestaan nie. Maar dit is nie al nie. Die “vrees van die Here” is om Hom eerbiedig te dien en vol ontsag met Hom rekening te hou. Dit is nie die vrees van ʼn slaaf vir sy eienaar nie, maar ʼn kinderlike vrees.

Om die Here te vrees en te dien is alleen moontlik as ons God as Vader deur Jesus Christus leer ken. Die vrees van die Here is ʼn vorm van dankbaarheid, van wederliefde, as ʼn antwoord op God se liefde. Sonder die verhouding met Christus is daar geen ruimte waar hierdie vrees van die Here (om die Here te dien) kan groei nie.

Deur die opregte geloof in Christus groei daar ʼn nuwe liefde vir die wet van die Here. Hierdie liefde vir die Here se wet kan dan in ons alledaagse lewe begin wys. In Psalm 86:11 staan hieroor geskryf: “Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien.” Die vrees van die Here word dan ʼn hartlike vreugde in God deur Christus Jesus en ervaar ek en jy dit om Hom te dien as ʼn liefdesdiens.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS