Skatkis van wysheid – Dag 19

Die gebed van Agur

Bybelteks(te)

SPREUKE 30

7Net twee dinge vra ek van U;

moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf:

8moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;

moet my nie arm maak of ryk nie,

gee my net die kos wat ek nodig het,

9sodat ek nie te veel het en U verloën

en sê: “Wie is die Here?” nie,

en sodat ek nie arm word en steel

en my God se Naam oneer aandoen nie.

SPREUKE 30:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 30

2Ek is meer dier as mens,

ek het nie die verstand van 'n mens nie.

SPREUKE 30:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: ‘Wie is die Here?’ nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.” Spreuke 30:7-9

Agur is ʼn wyse man. Dit lei ʼn mens sommer dadelik af as hy sê: “Ek is meer dier as mens, ek het nie die verstand van ʼn mens nie.” (Spreuke 30:2) Wyse mense sien hulleself as sonder kennis. Dwase mense sien hulleself as wys. Sy wysheid kom tot uiting in die wyse waarop hy sy eie nietigheid voor God se grootsheid insien (vers 4). ʼn Mens sien ook Agur se wysheid wanneer hy God in gebed opsoek. Hy bid tot sy God, intens en met eerbied.

Hy bid ook ordelik. Hy sê vir God dat hy twee dinge van Hom begeer. Die Here moet dit tog nie weier voordat hy sterwe nie. Hy som nie in sy gebed duisende dinge of verlangens op nie. Hy beperk sy versoek tot twee dinge wat die swaarste in sy lewe is: “… moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie.” Wanneer ʼn mens na Agur se gebed luister, wil ʼn mens eers op die eerste en dan die tweede versoek ag slaan.

Agur bid nie om iets te ontvang nie, maar juis om nié iets te ontvang nie. Sy gebed is: Here, moenie vir my rykdom gee nie. Merkwaardig. Ons is altyd geneig om iets te wil hê. Ons gebed neig altyd na onsself. Agur sʼn nie. In sy gebed staan sy eie begeerte nie sentraal nie, maar God wel. Dit is die kenmerk van ware gebed.

Waarom bid Agur so? ʼn Mens mag mos ryk word. Agur bid dat die Here hom sal spaar om ryk te word, omdat hy vrees dat hy dan nie meer God nodig sal hê nie. Hy is so bang dat hy sal sê: Wie is die Here? Hy is so bang dat hy dalk sal sê: Ek ken nie die Here nie. Dan is hy op dieselfde vlak as die faro wat ook gevra het wie die Here is. Agur ken homself. Hy weet hoe swak hy is, hoe sterk die versoeking is, en hoe maklik sy hart vlambaar is vir hoogmoed en ongeloof.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS