Skatkis van wysheid – Dag 14


Ons tyd … tyd van onrus
Bybelteks(te)
SPREUKE 15
“Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ʼn bietjie groente en liefde daarby as ʼn vetgemaakte os en haat daarby.” Spreuke 15:16-17
Wanneer ʼn mens om jou kyk is dit soms duidelik hoe baie gesinne ʼn groot skat het – soos wat Salomo dit beskryf. Hulle ken geen armoede nie. Hulle ken van gerief en ontspanning, het genoeg klere en skatte, en volop om te eet en te drink. Jongmense kan kies wat hulle wil studeer. Sulke gesinne het dit goed – resessie of nie – veral as ʼn mens dink hoe dit voorheen gegaan het.
As jy nou vra of sulke gesinne werklik welvaart beleef, dan moet ʼn mens sê dat Salomo ons tyd goed getipeer het. Talle gesinne besit wel ʼn groot skat, maar daar is onrus daarby. Onrus is een van die kenmerke van ons tyd. Mense kom nie tot rus nie; hulle voel bedreig en kan nêrens rus vind nie.
ʼn Mens kan nou die onrus maklik verklaar deur op die sondeval te wys. Dan sê ons dat ons sedert die sondeval ware rus verloor het en groei daar dorings en distels op ons lewenspad. Moet die mens in die sweet van sy aangesig sy brood verdien? Dit is waar. Ons kom almal in aanraking met die gevolge van die sondeval.
Daarmee kan ons egter nie met hierdie onrus wegdoen nie. In baie gesinne het die onrus so groot geword dat daar sprake van ʼn epidemie is.
Die gedagte is dat die welvaart die onrus moes wegneem, maar dit het die onrus aangehelp. Hoeveel leef nie asof alles van hul eie prestasie afhang nie? Hoeveel leef nie met die chroniese angs om hulle besittings te verloor nie?
Hoe gebeur dit dat baie mense so ʼn onrus beleef? Dit gebeur omdat die vrees vir die Here in hul lewe ontbreek. Die magte van ongeloof trek baie mense weg van God af. Sonder God is die lewe soos slawerny. Dit is die nood van baie mense in ons tyd. Augustinus het gesê ons hart bly onrustig totdat dit by God rus vind.