Skatkis van wysheid – Dag 13

ʼn Vriend en ʼn broer

Bybelteks(te)

SPREUKE 17

17Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken;

jou broer is daar met die oog op jou nood.

SPREUKE 17:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Op ʼn vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood.” Spreuke 17:17

Salomo skryf dat ʼn ware vriend iemand is wat ten alle tye liefhet. Nie vir een dag of een jaar nie, maar ten alle tye. Nie net in tye van voorspoed nie, maar ook in tye van teenspoed.

Ware vriendskap is ʼn seldsame ding. Minder seldsaam is die vriendskap in die gelykenis van die verlore seun. Solank daar geld en luukses is, is daar baie vriende om jou, maar as alles op is, sien jy die “vriende” nooit weer nie. Sulke vriendskappe is nie egte vriendskappe nie. Dit is ʼn bloot selfsugtigheid.

Ware vriendskap is soos ʼn koringaar wat uit die graankorrel van liefde ontkiem. Meestal groei dit stadig. ʼn Vriendskap wat vinnig groei hou gewoonlik nie lank nie. Soos wat die graankorrel homself tot voordeel van die koringaar verteer, so offer die “eie ek” hom/haarself ten bate van die vriendskap.

Salomo plaas ʼn hoë prys op so ʼn vriendskap. Daar is iets wonderliks in vriendskapsliefde. Hierdie liefde is egter ʼn vrye keuse. Daar is geen verpligting nie. Dit maak die vriendskap uniek.

ʼn Mens dink hier aan die vriendskap tussen Dawid en Jonatan. ʼn Mens hoor hoe die liefde huil wanneer Jonatan sterf en Dawid sy hartseer na die hemel uithuil (2 Samuel 1:17-27). So ʼn ware vriendskap hou stand deur alle beproewings. Juis in ʼn mens se nood leer jy jou ware vriende ken.

In die nood word ʼn vriend soos ʼn broer of suster. Dit is wat Salomo bedoel as hy sê: “Jou broer is daar met die oog op jou nood” en “Die broer word gebore met die oog op die nood.” As ʼn vriend getrou bly, ook in die nood, dan word hy of sy selfs ʼn broer of suster. Dit gaan verder en dieper. So ʼn broer word gebore. Daar is iets van ʼn verrassing daarin, maar soos met ʼn geboorte gaan dit met pyn gepaard. So ʼn vriend is ʼn geskenk van God, ʼn broer of suster, wat ʼn steun en troos vir sy of haar medemens is.

Hierdie vriendskap kom nie uit ʼn mens self nie. Dit word deur die Heilige Gees gewek. Dit groei uit die vrees van die Here en dra die rype vrug van broederliefde.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS