Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 2

Nuwe hoop sonder geheime

Bybelteks(te)

Wie gevrees moet word

26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

MATTEUS 10:26-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

HEBREËRS 4:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

12So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

PSALMS 103:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

2013 was ʼn moeilike jaar vir die wêreldbekende fietsryer Lance Armstrong. Hy het in daardie jaar uiteindelik sy beweerde gebruik van opkikkers erken tydens ʼn TV-onderhoud met Oprah Winfrey.

Toe die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) die verslag oor Armstrong se leuens bekendgemaak het, het hy baie van sy borge verloor. Hy is ook van sy sewe Tour de France-titels gestroop.

Wanneer ons met ʼn donker geheim in ons lewens rondloop, is dit soos ʼn monster word wat heeldag in ons nekke blaas. Dit beroof ons van ons lewensvreugde en vrede en veroorsaak dat ons ons opgeboude frustrasie op die mense vir wie ons die liefste is uithaal. Dít terwyl die vyand met ʼn breë glimlag sit omdat hy weet dat só ʼn geheim ons in ʼn tronk hou en verhoed dat ons ʼn oorvloedige lewe lei.

Sit jy met so ʼn geheim vandag in jou lewe? ʼn Verbode verhouding? ʼn Verslawing? ʼn Oneerlike werkstransaksie? ʼn Leuen wat jy probeer verdoesel? Het jy dalk ʼn aborsie gehad? Of is jy gemolesteer of was jy dalk die molesteerder? Voel jy hoe die monster in jou nek blaas? Waarom vermorsel jy dit nie deur met God oor jou geheim te gesels nie?

In Matteus 10:26-28 sê Jesus: “Daar is niks wat weggesteek is wat nie aan die lig sal kom nie en alles wat geheim was, sal bekend word.” Ook in Hebreërs 4:13 lees ons: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.” Daar is egter ook goeie nuus: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af” (Psalm 103:12) as ons waarlik berou het en ons sonde voor God bely.

Al voel die potensiële gevolge om “daardie geheim” aan die lig te bring vir jou oorweldigend, kan jy gerus wees. God sal jou deur sy genade versterk. Al is die tydelike gevolge ook pynlik, sal Hy jou sterker tot aan die ander kant bring met nuwe hoop in jou hart. Is dit nie immers beter om op aarde jou geheim aan die lig te bring as wanneer jy eendag alleen voor God se troon staan nie? Neem dus vandag die besluit met die wete dat God jou nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS