Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 3

Nuwe hoop omdat God jou diepste hartsbegeertes ken

Bybelteks(te)

13Die Here kyk uit die hemel

en sien al die mense.

14Van die plek waar Hy as koning sit,

sien Hy almal wat onder op die aarde woon.

PSALMS 33:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

24En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het

HANDELINGE 1:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Toe Kelly-Bianca Holmes ses jaar oud was het sy grootoog die groep mense dopgehou wat besig was om meubels van die trok voor hulle woonstel af te laai. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd sou sy, haar twee broers en haar pa daardie aand op ʼn gemaklike bed met ʼn matras slaap en nie op ʼn dubbelgevoude kombers as matras op die vloer van hulle eenslaapkamerwoonstel nie.

Nadat Kelly-Bianca se ma hulle gesin agtergelaat het vir ʼn ander man, het haar pa sy bes gedoen om met sy karige salaris as sekuriteitswag vir haar en haar twee boeties ʼn nuwe lewe te begin. Die druk van sy verantwoordelikhede, agterstallige skoolgelde en die uitdaging om daagliks te verseker dat daar kos in die huis is, het egter sy tol begin eis. Sy hoop vir ʼn beter toekoms het aan ʼn draad gehang.

Toe gebeur dit dat ons een oggend ʼn paar jaar gelede van hierdie gesin hoor tydens Radio Tygerberg se ontbytprogram Oggendrooi. Ons was besig met Projek Oase en met dié projek het luisteraars individue of ʼn gesin genomineer wat deur ʼn “woestyntyd” gegaan het. Ons het dan ʼn span vroegoggend tydens die program uitgestuur om die gekose gesin met ʼn geskenkbewys vir kruideniersware te verras. Vir die ontvangers is dit ʼn “oase”-oomblik te midde van hulle woestyntyd.

Te danke aan borge en luisteraars kon ons vir Kelly-Bianca se gesin kruideniersware, beddens en Kersgeskenke saamstuur (ʼn skening van ʼn organisasie wat rondom Kerstyd geskenke vir kinders bymekaarmaak). Ons het ook die nuus met die pa gedeel dat sy kinders se agterstallige skoolgelde betaal is en dat die skoolgeld vir daardie jaar ook vooruit betaal sou word. Die nuus het trane van vreugde oor sy wange laat vloei.

Eers later sou ons uitvind dat Kelly-Bianca vir weke lank ʼn spesifieke pop begeer het wat sy tydens ʼn TV-advertensie gesien het. Haar pa en ouma kon dit nie bekostig nie. Tog het die klein dogtertjie aangehou om te bid dat God die pop vir haar sou gee. Uit al die Kersgeskenke wat die organisasie bymekaargemaak het en kon uitkies, het hulle daardie spesifieke pop waarvoor Kelly-Bianca vir God gevra het vir haar saamgestuur. Niemand het dit geweet nie, maar God het dit nie vergeet nie.

Net soos God betrokke was in Kelly-Bianca se lewe, wil Hy ook graag in jou lewe betrokke wees. Hy ken jou hartsbegeertes. In Psalm 33:13-14 lees ons immers: “Die Here kyk uit die hemel, Hy sien al die mense, Hy kyk uit sy woonplek wat almal doen, almal wat op die aarde woon.” God sien ons nie net raak nie. Hy ken ook ons harte. In Handelinge 1:24a staan geskryf: “Toe het hulle gebid en gevra: ‘Here, U ken almal se harte …’ ”.

As jy jouself dus in ʼn situasie bevind waar jy net met God oor die spesifieke uitdagings in jou lewe kan gesels, wees gerus. Hy weet van jou finansiële verknorsing, jou huweliksmaat se harde hart, jou begeerte na ʼn lewensmaat of ʼn baba, of wat ook al jou bekommernis mag wees. Hou net aan om Hom te vertrou. Sy tyd vir ʼn deurbraak en sy manier waarop dit geskied is altyd presies reg. Hy is almagtig en niks is vir Hom onmoontlik nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS