Die belofte van rus vir dié wat glo
1Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. 3Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het:
“Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:
In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”
En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” 5terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 6Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan. 7God het immers weer 'n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie.”
8As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van 'n ander dag gepraat het nie. 9Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.
Die woord as swaard
12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.