Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 1) – Dag 1

Nuwe hoop vir ʼn nuwe jaar

Bybelteks(te)

12Verbly julle in die hoop;

staan vas in verdrukking;

volhard in gebed.

ROMEINE 12:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

ROMEINE 15:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek lees onlangs van ʼn navorsingstudie van mense wat die Joodse konsentrasiekamp oorleef het. Die doel van die studie was om te bepaal of daar enige gemeenskaplike faktore onder die groep oorlewendes was, aangesien geweldig baie mense in die kampe gesterf het. Daar was ʼn baie interessante bevinding: Al die oorlewendes het hoop gehad. Soms in die vorm van ʼn manier om te ontsnap en ander kere in die wete dat ʼn geliefde nog leef en dat hulle moontlik weer bymekaar kon uitkom. Die oomblik wanneer mense in die konsentrasiekamp hoop verloor het, het hulle gesterf.

Met hoop kan ons berge versit, die uitdagendste situasies vierkantig in die oë kyk en nog ʼn tree vorentoe gee al voel dit asof ons laaste krag uit ons liggame gepers word. As ons egter hoop verloor, tuimel ons lewens inmekaar.

Watter tipe jaar was hierdie jaar vir jou? Was dit dalk gevul met hoogtepunte soos ʼn verlowing, troue, nuwe baba in die familie of ʼn deurbraak waarvoor jy al lank gebid het? Of was dit ʼn jaar wat jy liefs so vinnig moontlik wil vergeet aangesien ʼn geliefde van jou gesterf het, jy deur ʼn egskeiding moes gaan, jy slegte nuus ontvang het of dalk omdat jy die afgelope Kerstyd alleen moes spandeer?

Om terug te kyk na die vorige jaar herinner ons aan tye waar God vir ons deurbrake bewerkstellig het, maar ook waar ons sy teenwoordigheid tasbaar in die moeilikste oomblikke ervaar het. Dít skep ʼn geleentheid om Hom te dank, maar ook te beleef hoe ons hoop in die proses hernu word met die wete dat Hy ons ook nie in die nuwe jaar alleen sal laat nie.

My wense vir jou vir die nuwe jaar kom uit Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.” En ook uit Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

Mag ons in hierdie jaar nooit hoop verloor nie omdat ons weet dat God, ons bron van hoop, ons deur elke situasie sal dra. God is almagtig en vir Hom is niks onmoontlik nie. Kom ons vertrou op Hom. Hierdie jaar mag dalk net jou beste jaar nog wees! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS