Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 3

Nader tot God in donker tye

Bybelteks(te)

3Die Here sien oral;

Hy hou slegte en goeie mense dop.

SPREUKE 15:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

HEBREËRS 4:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

25Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is,

Ek maak die moedelose weer vol moed.

JEREMIA 31:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Ter agtergrond: ʼn Leser wat ʼn weduwee en enkelma is, stuur ʼn e-pos aan my waarin sy vertel dat haar lewe donker voel, asof die druk en verantwoordelikheid om die rolle van beide ma en pa in die huisgesin te vervul die oorhand wil kry. Sy skryf verder dat dit voel asof God van haar vergeet het en sy nie weet hoe lank sy nog sal kan uithou nie. Is dit hoe jy ook vandag voel? Vasgevang in ʼn donker seisoen van jou lewe?]

Dit was stikdonker in die woud. Met elke geluid het ʼn rilling langs die 13-jarige seun se ruggraat afgegly terwyl hy moes veg om nie na die naaste dorpie vir veiligheid te vlug nie. Vrees het hom verhoed. Ook die potensiële verleentheid as hy met sonsopkoms voor sy stam sou moes staan as ʼn mislukking. In die stam waarin hy grootgeword het, was dit tradisie dat ʼn seun die nag van sy dertiende verjaardag alleen in die woud moes spandeer. As hy dit kon regkry is hy as ʼn man gesien.

Met die eerste sonstrale wat die volgende oggend begin deurbreek het, het die seun ʼn figuur ʼn entjie weg van hom op ʼn klip gesien sit. Dit was sy pa met ʼn geweer in die hand wat hom dwarsdeur die nag opgepas het om te verseker dat sy seun niks sou oorkom nie.

In donker en vreesagtige situasies kan ʼn mens bang, mismoedig en onseker begin raak. Dit kom in die vorm van ʼn egskeiding, ʼn geliefde wat selfdood toepas, depressie, ʼn finansiële krisis, aflegging by die werk of ʼn situasie waarin jy soos bogenoemde leser voel asof die verantwoordelikheid van die lewe die oorhand kry. Dit is dan dat ons ook na mense wil vlug wat ons moet beskerm. Die waarheid is egter dat God heelwat nader aan ons is as wat ons dink. Sy oë is konstant op ons elkeen. In Spreuke 15:3 lees ons: “Op elke plek is die oë van die HERE …” Ook in Hebreërs 4:13 staan geskryf: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë.”

Ten spyte van die gebroke wêreld waarbinne ons leef waar die vyand verwoesting in ons lewens wil saai, kan ons weet dat God nooit enigiets oor ons pad sal toelaat wat ons nie kan hanteer nie. In 2 Korintiërs 12:9 sê Hy: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En in Jeremia 31:25 beloof Hy: “Ek gee nuwe krag aan die moedelose wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”

Kom ons plaas ons hoop opnuut in God met die wete dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie. Ons mag dalk, net soos die seun in die woud, wanneer die eerste sonstrale van ons deurbraak verskyn, terugkyk en besef dat God konstant oor ons gewaak het. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS