Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 4

Nader tot God in die wagtyd

Bybelteks(te)

8Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.

DIE OPENBARING 5:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

PSALMS 46:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verskeie lesers het oor die afgelope paar jaar dieselfde vraag gehad: “Hoe bly ʼn mens positief in die wagtyd op ʼn deurbraak? Hoe verhoed jy dat jou geloof skade ly?” Vandag wil ek ʼn analogie met jou deel wat jou hopelik in die wagtyd sal bemoedig met die wete dat God elk van jou gebede hoor.

Die analogie: Verbeel jouself vir ʼn oomblik jy hou ʼn plastiekbottel met donker, swart water in jou hand vas. Dít verteenwoordig daardie magtelose situasies in ons lewens wat soms dreig om ons te oorweldig.

Haal nou die prop af. Op dieselfde manier moet ons die beperkinge op God en wat Hy in ons donker situasies kan kom doen afhaal terwyl ons onsself herinner dat Hy in staat is om veel meer te doen as wat ons kan bid of dink.

Sit nou die bottel water in ʼn wasbak sonder ʼn prop en draai die kraan oop sodat die skoon water van bo-af in die bottel met die swart water begin inloop. Dít is wat gebeur die oomblik as ons oor ons uitdagings begin bid. Ons laat toe dat God sy krag in ons donker situasies laat “inloop”. Aanvanklik bly die water op die oog af donker ten spyte van die skoon water wat inloop. Dit is dieselfde in ons wagtyd. Ons sien nie onmiddellik ʼn verskil nie en daarom twyfel ons of God ons gebede hoor. Die waarheid is egter – as die skoon water aanhou om in die bottel met vuil water in te loop, gaan ʼn oomblik aanbreek waar die skoon water die vuil water totaal uit die bottel druk. Dít is die oomblik waarin ons ʼn skielike deurbraak beleef, waar God sy krag tasbaar aan ons openbaar.

Wat is vandag jou uitdaging? ʼn Finansiële krisis, ʼn ongelowige huweliksmaat, jou begeerte na ʼn baba, ʼn werksgeleentheid, gesondheid, die herstel van jou huwelik, of genesing van ʼn verslawing?

Onthou, in Openbaring 5:8 lees ons dat God se engele die gelowiges se gebede op aarde bymekaarmaak en dit soos reukoffers voor sy troon laat opgaan. Hy hoor dus al ons gebede. Soms moet ons net ophou om in ons eie krag te veg. In Psalm 46:11 lees ons immers: “Julle moet ophou veg, julle moet weet dat Ek God is, Ek is hoog bo die volke, hoog bo die aarde.” Ook in Efesiërs 3:20-21 lees ons: “Hy (God) gebruik sy krag in ons. Hy kan baie meer doen as wat ons dink of vir Hom vra. Almal moet Hom, ons Koning, altyd prys. Amen.”

In die wagtyd leer ons God se karakter juis ken omdat dit ʼn tyd word waarbinne Hy ons karakter toets. Kom ons slaag die toets en hou aan bid al voel die water of dit swart bly. Daardie oomblik waarin die water silwerskoon in die bottel word, is dalk baie nader as wat jy dink. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS