Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nader tot God – Dag 2

Nader tot God – stap vir stap

Bybelteks(te)

3Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak:

Ek het jou nog altyd liefgehad,

daarom het Ek jou met geduld verdra.

JEREMIA 31:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

24Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord,

terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.

JESAJA 65:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Hier is ʼn uittreksel uit ʼn e-pos wat ek van ʼn leser ontvang het: “Benescke, hoe kan ek weer my verhouding met God herstel? Ek ken Hom, maar dit voel asof ek in hierdie stadium van my lewe ver van Hom af is en ek weet nie hoe om dit te herstel nie. Het jy raad?”]

Voel jy dalk vandag dieselfde as hierdie leser? Jy het ook al tot bekering gekom. Jy het God se teenwoordigheid en krag in jou lewe ervaar en daar was eens ʼn brandende passie binne jou om soveel moontlik mense tot redding te bring. Omstandighede, ʼn teleurstelling of krisis, of bloot ʼn besige skedule het egter veroorsaak dat hierdie passie binne jou begin afkoel het. Omdat jy nou aan die een kant skuldig voel en aan die ander kant nie die vrymoedigheid het om na God terug te keer nie, bly die situasie dieselfde. Dít is waar die vyand jou wil hou. Passief.

Daar is egter hoop vir jou situasie.

Wanneer mense vir ʼn paar dae vas en die vas word gebreek, is een van die belangrikste dinge om te onthou dat jy nie ʼn groot ete aan die begin moet eet nie. Doen jy dit, sal jou liggaam sukkel om dit te verwerk en jy sal heel moontlik siek voel. Die advies is gewoonlik dat die persoon wat die vas breek, veral as dit ʼn vas van meer as twintig dae was, dit met vloeistowwe soos sop moet doen. Só word die liggaam weer gewoond aan kos en sal hy of sy mettertyd sonder moeite aan ʼn biefstuk kan smul.

Dieselfde geld vir ons “terugkeer na God”. In stede daarvan om ʼn lywige Bybelleesprogram nader te trek of by al wat ʼn basaar of bidgroep is betrokke te raak (en daar is vir seker plek hiervoor), is die belangrikste om eerstens net weer stil voor God te raak, op Hom te fokus, Hom te vra om deur sy Heilige Gees met ons te praat en dan te luister na wat Hy op die hart het. Begin klein, waar jy is. Jy sal gou beleef hoe jou passie vir God weer vlamvat, hoe jy nie kan wag om die Woord van God op te tel om te lees om Hom sodoende beter te leer ken nie. God is heeldag besig om na ons uit te reik. Ons mis dit egter heelwat kere omdat ons te besig raak.

Onthou, die vyand gaan ons tyd altyd probeer steel deur ons met onbelangrike dinge besig te hou om te verhoed dat ons by God uitkom. Oorwin dit deur doelbewus jou radio in jou motor af te skakel en met God te praat of sommer nadat jy hierdie stukkie gelees het, weer vir God opnuut te nooi om deel van jou lewe te word.

In Jeremia 31:3 lees ons immers: “Die Here het gekom na sy volk wat ver van Hom is. Die Here het gesê: ‘Ek was lief vir julle en Ek sal aanhou om lief te wees vir julle. Julle behoort aan My, daarom hou Ek julle vas.’ ” Ook in Jesaja 65:24 lees ons: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.”

God het ons elkeen oneindig lief, al voel ons ver van Hom af. Kom ons keer terug na Hom en maak Hom deel van ons lewens. Hy wag reeds op ons. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS