Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 55

Josua 1–3, Handelinge 1–3, Psalm 1 & 119:9–16

Bybelteks(te)

Die opdrag aan Josua

1Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: 2“Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee. 3Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom: 4van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees.

5“Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. 6Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het.

7“Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. 8Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. 9Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Josua se bevele aan die volk

10Josua het die beamptes van die volk beveel: 11“Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.”

12Vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manassestam het Josua gesê: 13“Julle onthou die woorde van Moses die dienaar van die Here. Hy het vir julle gesê: ‘Die Here julle God sal vir julle 'n vaste woonplek gee; Hy sal julle hierdie gebied gee.’ 14Julle vrouens en kinders en julle vee kan in die gebied aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het, maar julle, elke weerbare man, moet in formasie voor julle volksgenote uit optrek en hulle help. 15Eers nadat die Here aan julle volksgenote 'n vaste woonplek gegee het soos vir julle, en hulle ook die gebied in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom. Dan kan julle julle eie gebied wat Moses die dienaar van die Here aan julle oos van die Jordaan toegeken het, in besit neem.”

16Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat u ons opdra, ons sal gaan waar u ons ook al stuur. 17Soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God by u wees soos Hy by Moses was. 18Elke man wat hom teen u bevele verset en nie gehoorsaam is aan al die bevele wat u gee nie, sal doodgemaak word. Wees u net sterk en vasberade.”

Die verkenners in Jerigo

1Josua seun van Nun het van Sittim af in die geheim twee verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.”

Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan. 2Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken, 3en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.”

4Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie. 5Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.”

6Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het. 7Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit.

8Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak 9en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

12“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding 13dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”

14Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”

15Sy het hulle met 'n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het. 16Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.”

17Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind 18as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou. 19Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie 'n hand teen hom gelig word nie. 20En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.”

21Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind.

22Hulle het vertrek en is die berge in. Daar het hulle drie dae gebly tot die mense wat hulle gaan soek het, teruggekom het. Die mense het langs die hele pad gesoek en niks gekry nie. 23Daarna het die twee manne uit die berge teruggekom en is hulle die rivier oor na Josua seun van Nun toe. Hulle het hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.”

Die Israeliete steek die Jordaan oor

1Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. 2Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan 3en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, 4sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet 'n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.”

5Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.”

6Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.”

Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.

7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

Die belofte van die Heilige Gees

1My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart

9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Judas se opvolger

12Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver. 13In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus. 14Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.

15In daardie tyd was daar 'n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê: 16-17“Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook gekies om 'n aandeel in ons werk te hê, maar hy het die gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het.

18“Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy 'n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. 19Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.

20“In die boek van die Psalms staan daar:

“Laat sy woonplek leeg word;

laat niemand daarin woon nie,

“en:

“Laat 'n ander sy amp oorneem.

21-22“Daar moet dus nog 'n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.”

23Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. 24En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het 25om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.”

26Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.

HANDELINGE 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die uitstorting van die Heilige Gees

1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Petrus se toespraak op die pinksterdag

14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:

Ek sal my Gees uitstort op alle mense:

julle seuns en julle dogters sal as profete optree;

julle jongmense sal gesigte sien;

julle oumense sal drome droom.

18Ja, op my dienaars en my dienaresse

sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,

en hulle sal as profete optree.

19Ek sal tekens bo in die lug

en wonders onder op die aarde gee:

bloed en vuur en rookwolke.

20Die son sal pikdonker word

en die maan bloedrooi

voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.

21So sal dit dan wees:

elkeen wat die Naam van die Here aanroep,

sal gered word.

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:

“Ek het die Here altyd voor oë.

Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

26Daarom is my hart bly en my tong jubel,

ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

27want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie;

U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

28U het my die paaie van die lewe geleer;

u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie,

en sy liggaam het nie vergaan nie.

32“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:

“Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

35totdat Ek jou vyande

aan jou onderwerp het.

36“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die eerste bekeerdes

37By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

38Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

40Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

41Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die eerste gemeente

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

HANDELINGE 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die genesing van die verlamde man

1Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. 2Net toe word daar 'n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. 3Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. 4Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.”

5Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. 6Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. 9Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; 10maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.

Petrus se toespraak in die Pilaargang van Salomo

11Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. 12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:

“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle 'n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 20En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 21Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 22Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. 23Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ 24En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. 25Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot 'n seën wees.’ 26Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot 'n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

HANDELINGE 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,

wat op die regte tyd vrugte dra

en waarvan die blare nie verdroog nie.

Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

4So is die goddeloses nie.

Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.

5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie

en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.

6Waarlik,

die Here lei die regverdiges op hulle pad,

maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

9Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou?

Deur hom te hou aan u woord!

10Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart,

laat my nie afwyk van u gebooie nie.

11Aan u beloftes hou ek vas,

dit weerhou my van sonde teen U.

12Aan U kom die lof toe, Here,

leer my u voorskrifte.

13Al u bepalings wil ek een vir een opnoem.

14Om volgens u verordeninge te lewe,

gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld.

15U bevele bly my altyd by.

Ek gee ag op die pad wat U aanwys.

16Ek verlustig my in u voorskrifte,

u woord vergeet ek nie.

PSALMS 119:9-16AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS