Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 56

JOSUA 4–6, HANDELINGE 4–6

Bybelteks(te)

1Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2“Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, 3en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”

4Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, 5en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. 6Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ 7moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.”

8Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.

9Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar.

10Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan. 11Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. 12Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. 13Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15Die Here het vir Josua gesê: 16“Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom, 18en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

19Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. 20Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel 21en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ 22moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. 23Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

1“Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete aan die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het sodat ons kon deurgaan, het hulle harte van angs verstyf en het hulle nie meer moed teen die Israeliete gehad nie.”

Die besnydenis by Gilgal

2In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer 'n besnydenis wees.”

3Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny. Die plek is genoem die Heuwel van die Besnydenis. 4Die rede waarom Josua die besnydenis moes uitvoer, is die volgende: die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die weerbare manne, is op pad in die woestyn dood met die uittog uit Egipte; 5al die mense wat destyds getrek het, was besny, maar die mense wat in die woestyn onderweg gebore is tydens die uittog uit Egipte, was nie een besny nie; 6die Israeliete het veertig jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat die hele nasie uitgesterf het, dit wil sê die weerbare manne wat uit Egipte getrek het en ongehoorsaam was aan die opdrag van die Here. Hy het destyds 'n eed afgelê dat hulle nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning; 7Hy het daardie mense se kinders in hulle plek gestel en vir hulle het Josua besny, want hulle was nog nie besny nie, hulle is nie langs die pad besny nie.

8Nadat die hele nasie klaar besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle gesond was.

9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”

Josua het die plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog die naam.

Die paasfees

10Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand. 11Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet. 12Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet.

Die leëraanvoerder van die Here

13Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar 'n man voor hom met 'n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?”

14“Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.”

Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?”

15Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.”

Josua het dit gedoen.

Die inname van Jerigo

1Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie.

2Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee. 3Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen. 4Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra.

“Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas, 5en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”

6Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.”

7Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”

8Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom. 9Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

10Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of 'n geluid laat hoor nie; nie 'n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.” 11Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring. 12Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra. 13Die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas. 14Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen.

15Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan. 16Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor! 17Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek. 18Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor. 19Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.”

20Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem 21en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig. 24Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit.

25Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het.

26Josua het destyds plegtig verklaar:

“Die Here sal die man straf

wat dié stad, Jerigo, probeer herbou.

Dit sal hom sy oudste seun kos

as hy die fondament lê

en sy jongste as hy die poortdeure hang.”

27Die Here was by Josua. Josua was oor die hele land bekend.

Petrus en Johannes voor die Joodse Raad

1Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. 2Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding 'n werklikheid geword het. 3Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. 4Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend.

5Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. 6Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. 7Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”

8Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, 9julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. 10Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. 11Hy is

“die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.

Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

12“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

13Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. 14En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. 15Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek.

16“Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. 17Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”

18Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. 19Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

21Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. 22Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.

Die gebed van die gelowiges

23Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. 24Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê:

“Waarom het heidennasies te kere gegaan,

en het volke sinlose planne beraam?

26Die konings van die aarde het in opstand gekom,

en die heersers het saamgespan

teen die Here en teen sy Gesalfde.

27“Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

29“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. 30Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Onderlinge mededeelsaamheid

32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

36Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – 37het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.

HANDELINGE 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ananias en Saffira

1Maar daar was ook 'n sekere man, Ananias, en sy vrou, Saffira, wat 'n eiendom verkoop het. 2Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulleself agtergehou en net 'n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. 3Petrus sê toe vir hom: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? 4Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.”

5Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword. 6'n Paar van die jonges het nader gekom, hom toegedraai en gaan begrawe.

7Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het. 8Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?”

“Ja,” sê sy, “vir soveel.”

9Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.”

10Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe.

11Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword.

Baie tekens en wonders

12Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, 13maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. 14Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. 15Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. 16Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

Die vervolging van die apostels

17Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp. 18Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop. 19Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê: 20“Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”

21Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer.

Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir 'n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal.

22Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel: 23“Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.”

24Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde dit hoor, was hulle uit die veld geslaan en hulle het gewonder wat van die apostels geword het. 25Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!”

26Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe. 27Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28“Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

29Petrus en die ander apostels het geantwoord: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

33Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. 34Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word. 35Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen. 36'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie. 37Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag. 38Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. 39Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!”

Die Raad het na hom geluister. 40Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat.

41Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. 42En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

HANDELINGE 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sewe diakens word gekies

1In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het, het daar teen die Hebreeussprekendes klagtes gekom van die Griekssprekendes dat hulle weduwees in die daaglikse versorging afgeskeep word. 2Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: “Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. 3Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. 4Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”

5Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, 'n man met 'n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. 6Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.

7Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword.

Stefanus word gevange geneem

8Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. 9Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer. 10Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie. 11Toe het hulle mense omgekoop om te sê: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster.”

12Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Dié het op hom afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring 13en vals getuies gekry om te sê: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. 14Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander.”

15Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.

HANDELINGE 6AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS