Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 165

Job 18–21, Romeine 14–16

Bybelteks(te)

Bildad: Die onheil wag die goddelose in

1Toe sê Bildad die Suagiet vir Job:

2“Hoe lank gaan jy nog aanhou praat?

Kom eers tot ander insigte dan kan ons verder praat.

3Waarom word ons as diere beskou?

Is ons dan so dom in jou oë?

4Jy is soos iemand wat homself in sy woede verskeur.

Moet alle mense van die wêreld af verdwyn om jou tevrede te stel?

Moet die rotse uit hulle plek losgeruk word?

5“Die goddelose se lig sal beslis uitgedoof word,

die vlam van sy vuur sal ophou brand,

6die lig in sy huis sal doodgemaak word

en die lamp langs hom uitgedoof word.

7Sy kragtige treë sal al onsekerder word,

sy slim planne sal hom tot 'n val bring.

8Hy sal aan sy voete gevang word deur 'n strik,

hy sal in 'n valstrik inloop.

9'n Wip sal hom aan die hakskeen vang,

'n vangnet sal hom vasgryp.

10'n Lus is vir hom op die grond weggesteek,

daar is 'n vanggat op sy pad.

11Hy word van alle kante af met gevaar bedreig,

dit volg hom net waar hy gaan.

12Die onheil wag hom gretig in,

die ongeluk wag vir hom.

13'n Dodelike siekte sal sy vel wegvreet

en sy liggaamsdele verteer.

14Hy sal uitgeruk word uit sy veilige huis,

hy sal weggelei word na waar die groot vrees heers.

15Niks wat hy het, sal in sy woning oorbly nie,

oor sy woonplek sal brandende swael gestrooi word.

16Sy wortels sal van onder af verdroog

en sy blare bo verlep.

17Elke herinnering aan hom sal van die aarde af verdwyn,

sy naam sal nêrens meer bekend wees nie.

18Hy sal uit die lig die duisternis in gestoot word,

hy sal uit die bewoonde wêreld verjaag word.

19Hy sal geen kind of nakomeling

onder sy mense hê nie,

en daar sal niemand in sy woonplek oorbly nie.

20Oor sy lot sal die mense van die ooste en die weste

die hande van verbasing saamslaan en met vrees vervul wees.

21Só sal dit gaan met die huis van die slegte mens,

só sal die plek lyk van iemand wat nie vir God erken nie.”

Job: Ek sal vir God sien

1Toe het Job weer gepraat:

2“Hoe lank gaan julle my bly pynig

en my met woorde striem?

3Dit is die soveelste keer dat julle my beledig

en my sleg behandel sonder om julle te skaam.

4As ek werklik gedwaal het,

is my dwaling my eie saak.

5Maar as julle julle teen my aanstel

en my veroordeel oor die smaad wat oor my gekom het,

6weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen

en my in sy net gevange hou.

7Ek skreeu: ‘Geweld!’ maar kry geen reaksie nie,

ek roep om hulp maar daar word nie aan my reg gedoen nie.

8Hy het my pad versper, ek kan nie verder nie.

Hy het die donker laat toesak oor my pad.

9Hy het my eer van my af weggestroop,

my aansien van my af weggeneem.

10Aan alle kante breek Hy my af, sodat ek moet sterf,

Hy laat my hoop verdwyn soos 'n boom wat uitgeruk word.

11Hy laat sy woede teen my losbreek,

Hy behandel my as vyand.

12Sy magte het saam op my afgestorm,

hulle beleër my en omsingel my huis.

13My broers het Hy van my verwyder,

my bloedverwante is van my vervreem,

14my familie het my verlaat,

my bloedverwante het my vergeet.

15My huismense en my slavinne beskou my as 'n vreemdeling,

ek het vir hulle soos 'n uitlander geword.

16Ek roep my slaaf, maar hy antwoord my nie,

selfs al smeek ek hom.

17My asem walg my vrou,

ek ruik sleg vir my eie broers.

18Selfs kindertjies minag my,

as ek wil opstaan, spot hulle my.

19Al my vertrouelinge verafsku my,

dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.

20Ek is net vel en been,

al my tande het uitgeval.

21Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer!

Die hand van God het my swaar getref.

22Waarom vervolg ook julle my soos God dit doen?

Kry julle nie genoeg nie?

23Mag my woorde tog opgeskryf word,

mag dit ingegraveer word op 'n monument

24met 'n ysterpen en lood,

vir altyd in 'n rots uitgekap.

25Ek weet dat my Losser leef,

uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!

26Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het,

sal ek nog lewe en God sien.

27Ek sal Hóm sien,

met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.

Ek smag daarna met my hele lewe.

28As julle dan sê julle wil my vervolg,

die wortel van die kwaad by my opspoor,

29moet júlle die swaard vrees,

want in sy toorn straf God die sonde met die swaard.

Dan sal julle weet dat daar 'n regter is.”

Sofar: Die blydskap van die godlose duur net 'n oomblik

1Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:

2“Ontsteltenis dwing my om te antwoord,

dit maak my haastig om te praat.

3Ek hoor 'n teregwysing wat my beledig,

maar ek wil verstandig daarop antwoord:

4Weet jy wat vroeër gebeur het,

van die tyd af toe die mens op die aarde geplaas is?

5Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is,

dat die blydskap van die godlose net 'n oomblik duur?

6Al sou sy trots tot in die hemel reik

en sy kop aan die wolke raak,

7sal hy soos sy eie uitwerpsel vir altyd vergaan.

Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’

8Hy verdwyn soos 'n droom, hy is nêrens te vind nie,

hy raak weg soos 'n gesig in die nag.

9Die oog wat hom gesien het, sal hom nie weer sien nie,

sy plek is vir altyd leeg.

10Sy kinders sal die armes moet vergoed,

met sy eie hande sal hy sy rykdom moet teruggee.

11Die jeugdige krag van sy liggaam

gaan saam met hom die graf in.

12Hoewel die onreg soet smaak in sy mond

en hy dit wegsteek onder sy tong,

13dit opgaar en nie wil laat vaar nie,

dit teen sy verhemelte vasdruk,

14gaan sy kos omdraai in sy maag

en in hom word soos die gif van 'n slang.

15Die ryk kos wat hy verslind het, gaan hy opgooi;

God sal hom dit laat opbring.

16Wat hy drink, is soos slanggif,

dit maak hom dood soos die pik van 'n adder.

17Hy sal nie die strome water geniet nie,

nie die strome heuning en dikmelk nie.

18Wat hy met moeite verwerf het, moet hy teruggee,

hy kan dit nie geniet nie,

hy sal hom nie verlustig aan die weelde

wat hy deur sy besigheid verkry het nie.

19Hy verdruk mos die armes en los hulle net so,

hy vat sommer vir hom 'n huis,

hy bou dit nie self nie.

20Daar is geen einde aan sy gulsigheid nie,

hy kom nie vry van sy hebsug nie.

21Niks ontsnap sy vraatsug nie,

daarom hou sy voorspoed nie stand nie.

22Met sy oorvloed en al tref 'n ramp hom,

kom die swaarkry met volle krag op hom af.

23Terwyl hy hom nog so vol eet,

laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek,

oorval God hom met oorlog.

24Hy vlug nog vir 'n ysterwapen,

dan deurboor 'n bronspyl hom.

25Terwyl hy dit uit sy rug uit trek,

die glansende punt uit sy gal,

oorval die doodsvrees hom.

26Al sy skatte is bestem om vernietig te word,

'n vuur verteer hom, selfs al word dit nie aangeblaas nie.

Dit verbrand wat in sy huis oorbly.

27Die hemel ontbloot sy sonde,

die aarde kom teen hom in opstand.

28Vloedwater spoel sy huis weg,

waterstrome op die dag van God se toorn.

29Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God,

die deel van die een wat hom teen God verset.”

Job: Waarom word die goddeloses ryk en vernaam?

1Toe het Job weer gepraat:

2“Luister goed na my woorde;

so sal julle my die beste troos.

3Verdra my terwyl ek praat,

en as ek klaar gepraat het, kan julle my verder bespot.

4My klag is nie teen mense nie.

Waarom mag ek dan nie ongeduldig word nie?

5Kyk na my, dan sal julle verstom staan

en van verbasing die hand op die mond lê.

6As ek hieraan dink, skrik ek,

gaan ek aan die bewe:

7Waarom bly die goddeloses aan die lewe,

word hulle oud en ryk en vernaam?

8Hulle kinders raak gevestig rondom hulle,

hulle sien hulle nageslagte.

9Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie,

die straf van God tref hulle nie.

10Hulle bulle dek die koeie en slaan nie een oor nie,

hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie.

11Hulle laat hulle kindertjies los rondloop soos kleinvee,

hulle kleintjies baljaar vrolik rond.

12Hulle sing met begeleiding van die tamboeryn en die lier,

hulle is vrolik by die geluid van die fluit.

13Hulle slyt hulle lewens in voorspoed,

hulle gaan in vrede die doderyk binne.

14Maar tog is dit hulle wat vir God sê: ‘Laat staan ons, ons weier om u wil te ken.

15Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?’

16“Maar hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie,

daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.

17Hoe dikwels word die lewenslamp van die goddeloses uitgedoof,

kom 'n ramp oor hulle,

laat God in sy toorn onheil oor hulle kom?

18Hoe dikwels is hulle soos kaf voor die wind,

soos stoppels wat weggewaai word deur die stormwind?

19Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders?

God moet hom tog straf dat hy dit self weet!

20Hy moet sy ondergang met sy eie oë sien,

hy moet self die toorn van die Almagtige ondervind.

21Wat kan sy familie hom skeel na sy dood,

as sy lewensdraad afgeknip is?

22“Sou iemand vir God iets kon leer,

vir Hom wat selfs die sterkstes regeer?

23“Die een mens sterf in sy volle krag

terwyl hy heeltemal tevrede en rustig leef,

24terwyl hy blakend gesond is

en volop murg in sy bene het.

25Die ander sterf in bitterheid

sonder dat hy voorspoed gesmaak het.

26Saam lê hulle in die graf,

altwee oortrek van die wurms.

27“Ek ken julle gedagtes,

die slim argumente waarmee julle my wil veronreg.

28Julle sê: ‘Wat word van die huis van 'n belangrike man,

van die wonings van goddeloses?’

29Het julle nie dié wat baie rondgaan, gevra nie,

het julle nie ag geslaan op wat hulle vertel nie?

30Hulle sê 'n slegte man word op die dag van onheil gered,

hy word op die dag van toorn verskoon.

31Wie spreek hom in sy gesig aan oor sy slegte gedrag,

wie vergeld hom vir wat hy gedoen het?

32“Hy word na die graf gedra,

en by die hopie grond word daar wag gehou.

33Die kluite van die graf pla hom nie.

Alle mense volg hom daarheen,

en voor hom is mense sonder tal daarnatoe.

34Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos?

Julle argumente is niks anders as bedrog nie.”

Moenie jou broer veroordeel nie

(Vgl. 1 Kor. 8:11-13; 10:23-33)

1Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.

4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.

5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

7Niemand van ons leef tog vir homself nie,

en niemand sterf vir homself nie.

8As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;

en as ons sterwe, sterf ons tot eer

van die Here.

Of ons dan lewe en of ons sterwe,

ons behoort aan die Here.

9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.

10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:

“So seker as Ek lewe, sê die Here,

voor My sal elke knie buig,

en elke tong sal bely dat Ek God is.”

12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.

Moenie jou broer laat struikel nie

13Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. 14Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. 15As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. 16Moenie dat die goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie. 17Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.

19Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. 20Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. 21Dit is goed as 'n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. 22Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. 23As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

Die voorbeeld van Christus

1Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan:

“Die beledigings waarmee mense U beledig,

het op My neergekom.”

4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Die evangelie is vir alle mense

7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:

“Daarom sal ek U loof voor die nasies,

en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.”

10En elders lui dit:

“Verbly julle, ander nasies,

saam met sy volk.”

11En:

“Prys die Here, alle nasies!

Loof Hom, alle volke!”

12En Jesaja sê ook:

“Isai sal 'n nakomeling hê,

en Hy sal opstaan om die nasies te regeer;

op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Paulus se sendingopdrag

14My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. 15Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee 16om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is. 17In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. 18Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, 19deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. 20Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie, 21maar soos daar geskrywe staan:

“Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien,

en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.”

Paulus se plan om Rome te besoek

22Dit is dan ook die rede waarom ek baie keer verhinder is om na julle toe te kom. 23Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer 'n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek 24as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers 'n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis. 25Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. 26Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan. 28As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis. 29Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.

30Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid 31dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar. 32En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om 'n tydjie by julle te rus.

33God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.

Persoonlike groete

1Ek beveel ons suster Febe wat dienaar is in die gemeente in Kenchreë, by julle aan. 2Ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle hulp nodig kry, want sy was vir baie, en ook vir my, tot steun.

3Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus 4wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. 5Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.

My groete verder ook aan my liewe vriend Epenetus, die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië, 6en aan Maria, wat baie moeite vir julle gedoen het. 7Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword.

8En dan stuur ek ook groete vir Ampliatus, my liewe vriend in die Here, 9vir Urbanus, my medewerker in Christus, en vir my liewe vriend Stagis; 10ook vir Apelles – hy het gewys wat in hom steek as gelowige – en die huis van Aristobulus; 11vir Herodion, my volksgenoot, en vir dié uit die huis van Narsissus wat tot die geloof gekom het.

12Groete verder ook aan Trifena en Trifosa, ywerige werksters vir die Here, en aan my liewe Persis, wat al baie vir die Here gedoen het. 13Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd 'n ma was.

14En dan ook nog groete aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle; 15ook aan Filologus en Julias, Nereus en sy suster en Olimpas en al die ander gelowiges daar by hulle.

16Groet mekaar met 'n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

Laaste opdragte

17Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. 18Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.

19Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. 20God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!

21My medewerker Timoteus stuur vir julle groete, en so ook Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote. 22Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur as 'n medegelowige ook my groete. 23Gaius, my gasheer en ook gasheer van die hele gemeente hier, stuur ook groete. En dan ook nog groete van Erastus die stadstesourier, en van broer Kwartus.

Lofprysing

25God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, 26maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees. 27Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS