Sofar: Die blydskap van die godlose duur net 'n oomblik
1Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:
2“Ontsteltenis dwing my om te antwoord,
dit maak my haastig om te praat.
3Ek hoor 'n teregwysing wat my beledig,
maar ek wil verstandig daarop antwoord:
4Weet jy wat vroeër gebeur het,
van die tyd af toe die mens op die aarde geplaas is?
5Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is,
dat die blydskap van die godlose net 'n oomblik duur?
6Al sou sy trots tot in die hemel reik
en sy kop aan die wolke raak,
7sal hy soos sy eie uitwerpsel vir altyd vergaan.
Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’
8Hy verdwyn soos 'n droom, hy is nêrens te vind nie,
hy raak weg soos 'n gesig in die nag.
9Die oog wat hom gesien het, sal hom nie weer sien nie,
sy plek is vir altyd leeg.
10Sy kinders sal die armes moet vergoed,
met sy eie hande sal hy sy rykdom moet teruggee.
11Die jeugdige krag van sy liggaam
gaan saam met hom die graf in.
12Hoewel die onreg soet smaak in sy mond
en hy dit wegsteek onder sy tong,
13dit opgaar en nie wil laat vaar nie,
dit teen sy verhemelte vasdruk,
14gaan sy kos omdraai in sy maag
en in hom word soos die gif van 'n slang.
15Die ryk kos wat hy verslind het, gaan hy opgooi;
God sal hom dit laat opbring.
16Wat hy drink, is soos slanggif,
dit maak hom dood soos die pik van 'n adder.
17Hy sal nie die strome water geniet nie,
nie die strome heuning en dikmelk nie.
18Wat hy met moeite verwerf het, moet hy teruggee,
hy kan dit nie geniet nie,
hy sal hom nie verlustig aan die weelde
wat hy deur sy besigheid verkry het nie.
19Hy verdruk mos die armes en los hulle net so,
hy vat sommer vir hom 'n huis,
hy bou dit nie self nie.
20Daar is geen einde aan sy gulsigheid nie,
hy kom nie vry van sy hebsug nie.
21Niks ontsnap sy vraatsug nie,
daarom hou sy voorspoed nie stand nie.
22Met sy oorvloed en al tref 'n ramp hom,
kom die swaarkry met volle krag op hom af.
23Terwyl hy hom nog so vol eet,
laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek,
oorval God hom met oorlog.
24Hy vlug nog vir 'n ysterwapen,
dan deurboor 'n bronspyl hom.
25Terwyl hy dit uit sy rug uit trek,
die glansende punt uit sy gal,
oorval die doodsvrees hom.
26Al sy skatte is bestem om vernietig te word,
'n vuur verteer hom, selfs al word dit nie aangeblaas nie.
Dit verbrand wat in sy huis oorbly.
27Die hemel ontbloot sy sonde,
die aarde kom teen hom in opstand.
28Vloedwater spoel sy huis weg,
waterstrome op die dag van God se toorn.
29Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God,
die deel van die een wat hom teen God verset.”