Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 164

Job 15–17, Romeine 11–13

Bybelteks(te)

Elifas: Wil jy jou woede op God koel?

1Toe sê Elifas die Temaniet:

2“Kan 'n verstandige man soveel onsin praat,

so vol wind wees?

3Kan hy hom verdedig met woorde wat niks sê nie,

met 'n pratery wat niks beteken nie?

4Maar jy maak selfs die eerbied vir God nutteloos,

jy maak dit onmoontlik om iets in sy teenwoordigheid te sê.

5Dit is jou sonde wat jou die woorde in die mond lê;

daarom kies jy sulke slinkse woorde.

6Nie ek nie, jou eie mond veroordeel jou,

alles wat jy sê, getuig teen jou.

7Is jy die eerste mens wat gebore is?

Het jy vóór die berge in die wêreld gekom?

8Het jy in die raadsvergadering van God gesit en luister?

Het jy die alleenreg op die wysheid?

9Wat weet jy wat ons nie weet nie?

Wat verstaan jy wat ons nie ook verstaan nie?

10Ook onder ons is daar ou manne en grysaards,

manne selfs ouer as jou pa.

11“Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks,

die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is?

12Waarom het jou gevoel met jou op loop gesit,

waarom blits jou oë so?

13Wil jy jou woede op God koel

dat daar sulke woorde uit jou mond kom?

14Hoe kan 'n mens rein wees?

Hoe kan 'n sterfling onskuldig wees?

15As God nie eers die hemelwesens vertrou nie

en selfs die hemel nie rein is in sy oë nie,

16hoeveel minder 'n onrein, verdorwe mens

wat boosheid indrink soos water?

17“Luister na my, ek wil jou iets vertel;

wat ek ervaar het, wil ek jou meedeel.

18Dit is die woorde van wyse mense.

Hulle hou niks terug

van wat hulle vaders hulle vertel het nie.

19Dit kom uit die tyd

toe hulle die land net vir hulleself ontvang het

en daar geen vreemdeling onder hulle beweeg het nie.

20Hulle sê:

‘Sy lewe lank word die goddelose,

die geweldenaar, deur angs geteister,

al die jare wat vir hom afgemeet is.

21Angswekkende krete klink in sy ore;

terwyl alles veilig lyk, storm rowers op hom af.

22Hy twyfel of hy die dood sal vryspring,

hy weet hy kan nie aan die swaard ontkom nie.

23As hy vlug, word hy kos vir die aasvoëls,

hy weet die dood wag op hom.

24Soos 'n koning wat aanval,

storm swaarkry en lyding op hom af;

dit oorweldig hom,

25want hy daag God uit

en verset hom teen die Almagtige:

26in sy oormoed storm hy op God af

met sy dik, sterk skild,

27met sy ronde, vet gesig

en sy onderlyf dik van die vet.

28Hy sal in verwoeste stede moet woon,

in onbewoonbare huise,

huise wat dreig om bouvalle te word.

29Hy sal nie ryk bly nie, sy rykdom sal nie hou nie,

sy besittings op die aarde sal nie meer word nie.

30Hy sal die dood nie vryspring nie,

sy nakomelinge sal deur vuur verteer word,

sy woorde in die wind verdwyn.

31'n Mens moenie vertrou op wat niks is nie.

Dit bring hom nêrens nie,

in ruil daarvoor kry hy ook niks nie.

32Voor sy tyd gekom het,

is sy groeikrag daarmee heen.

33Hy is soos 'n wingerdstok wat sy trosse verloor voor dit ryp is,

soos 'n olyfboom wat sy bloeisels afgooi voor daar vrugte is.’

34“Die hele bende godloses sal sonder iets wees,

vuur sal die huise van die omkopers verteer.

35Dit is hulle wat swanger is van die kwaad,

wat onreg voortbring

en aan bedrog die lewe skenk.”

Job: Hy wat vir my getuig, is daar bo

1Toe het Job weer gepraat:

2“Hierdie soort argument het ek al baie gehoor.

Julle is almal maar hopelose troosters.

3Kom daar dan geen einde aan julle sinlose gepraat nie?

Wat pla julle dat julle die laaste woord wil hê?

4Ek sou ook soos julle kon praat

as julle sou ly wat ek te ly het.

Dan kon ek medelye met julle betoon

en my kop meewarig oor julle skud.

5Ek sou julle kon bemoedig met my woorde,

maar niksseggende woorde sou ek terughou.

6Maar my pyn sal nie ophou as ek praat nie,

dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie.

7Nou het God my afgetakel,

Hy het my hele gesin uitgewis.

8Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my;

my vervalle toestand staan op en getuig teen my.

9God het my in sy toorn verskeur en vervolg,

in sy woede het Hy my lewe bedreig,

Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.

10Mense rek hulle monde oor my,

hulle beledig my,

hulle sak op my toe.

11God het my oorgelewer aan slegte mense,

Hy het my in die hande van goddeloses laat val.

12Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus,

Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis.

Hy het van my 'n teiken gemaak:

13sy pyle tref my hele liggaam,

meedoënloos deurboor Hy my niere

en my gal loop uit op die grond.

14Wond op wond dien Hy my toe,

soos 'n soldaat storm Hy op my af.

15Ek het vir my 'n roukleed gemaak,

my eer het in die stof verdwyn.

16Ek het my oë rooi gehuil,

daar is swart kringe onder my oë.

17Tog is ek nie skuldig aan geweld nie

en is my gebed opreg.

18Moenie die onreg teen my verberg nie, aarde,

moenie dat my noodkrete tot rus kom nie.

19Selfs nou nog het ek 'n getuie in die hemel,

Hy wat vir my getuig, is daar bo.

20My vriende het my bespotters geword,

daarom pleit ek met trane by God

21dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen 'n mens en Hom

soos in 'n saak tussen 'n man en sy vriend,

22want my jare is min en gaan verby,

en ek gaan na die plek toe

waarvandaan niemand terugkom nie.”

Job: Daar is nie hoop in die doderyk nie

1“Ek is gedaan, my tyd is verby, net die graf bly vir my oor.

2Al wat ek hoor, is bespotting;

my oë is dof van my bitter lyding.

3Wees tog vir my 'n borg, o God!

Wie anders kan vir my instaan?

4U het die verstand van my vriende vir rede gesluit,

moenie dat hulle seëvier nie.

5Sou iemand sy besittings met sy vriende deel,

terwyl sy eie kinders gebrek ly?

6God het my tot 'n bespotting van mense gemaak;

hulle spoeg in my gesig.

7My oë het swak geword van die swaarkry,

my liggaam is net 'n skaduwee.

8Die opregtes slaan die hande saam daaroor

en die onskuldiges kom in opstand oor die godlose mense.

9Wie reg het, loop sy pad,

wie rein voor God is, neem toe in krag.

10Al kom julle almal elke keer weer terug,

kry ek nie een onder julle wat verstandig is nie.

11My dae is verby,

dis klaar met wat ek beplan en begeer het.

12My vriende maak mos of die nag dag is,

of die lig naby is omdat dit donker is.

13As ek my hoop vir 'n huis op die doderyk sou vestig,

sy donkerte my bed sou maak,

14as ek vir die graf sou sê: ‘Jy is my vader,’

en vir die wurms: ‘Julle is my moeder en my susters,’

15watter hoop sou ek dan hê

en wie sou vir my enige hoop kon gee?

16Sou die hoop dan saam met my na die doderyk toe afgaan?

Sou ons saam in die stof kon rus?”

Die oorblyfsel van Israel

1“Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.

Beslis nie! Ek is immers self ook 'n Israeliet, 'n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3“Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” 4Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” 5Net so is dit ook vandag: daar is 'n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. 6En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie.

7Waarop kom dit dan neer?

Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, 8soos daar geskrywe staan:

“God het aan hulle 'n gees gegee

wat hulle bedwelm het:

oë wat nie sien nie

en ore wat nie hoor nie,

tot vandag toe nog.”

9En Dawid sê:

“Mag hulle maaltye vir hulle 'n vangstrik en 'n val word

en 'n struikelblok en 'n straf.

10Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie;

en buig hulle rug vir altyd krom.”

Die verlossing van die heidennasies

11'n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?

Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. 12As hulle val 'n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie 'n verryking vir die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie!

13En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna 14om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. 15As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood!

16As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy.

17Party van die takke is uitgekap en jy, 'n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. 18Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.

19Jy sal wel sê: “Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.” 20Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; 21want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie.

22Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word. 23En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.

Die toekoms van Israel

25Ons staan hier voor 'n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor 'n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe:

“Uit Sion sal die Redder kom,

en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder.

27En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit

wanneer Ek hulle sondes wegneem.”

28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. 29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Aan God die eer

33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,

hoe onnaspeurlik sy weë!

34“Wie ken die bedoeling van die Here?

Wie gee Hom raad?

35Wie bewys Hom 'n guns,

sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

Die nuwe lewe in Christus

1En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Riglyne vir die Christelike lewe

9Die liefde moet opreg wees.

Verafsku wat sleg is

en hou vas aan wat goed is.

10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar;

bewys eerbied teenoor mekaar

en wees mekaar daarin tot voorbeeld.

11Moenie in julle toewyding verslap nie,

bly altyd geesdriftig,

dien die Here.

12Verbly julle in die hoop;

staan vas in verdrukking;

volhard in gebed.

13Help die medegelowiges

in hulle nood

en lê julle toe op gasvryheid.

14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle,

moet hulle nie vervloek nie.

15Wees bly saam met dié wat bly is

en treur saam met dié wat treur.

16Wees eensgesind onder mekaar.

Moenie hooghartig wees nie,

maar skaar julle by die nederiges.

Moenie eiewys wees nie.

17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Wees goedgesind teenoor alle mense.

18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang,

leef in vrede met alle mense.

19Moenie self wraak neem nie, geliefdes,

maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Daar staan immers geskrywe:

“Dit is mý reg om te straf;

Ék sal vergeld,”

sê die Here.

20“As jou vyand honger is,

gee hom iets om te eet;

as hy dors is,

gee hom iets om te drink;

want deur dit te doen,

maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,

maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Verpligtinge teenoor die owerhede

1Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. 3'n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, 4want die owerheid is 'n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. 5Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit 'n gewetensaak is.

6Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. 7Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

Liefde is die volle uitvoering van die wet

8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS