Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 163

Job 11–14, Romeine 9–10

Bybelteks(te)

Sofar: Gebruik jou verstand reg

1Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:

2“Moet al die baie woorde onbeantwoord bly?

Kan 'n mens homself met praat regverdig?

3Moet mense stilbly vir jou praatjies?

Wil jy bly laster sonder dat iemand jou bestraf?

4Jy sê vir God: ‘Wat ek dink, is reg,

ek is onskuldig voor U.’

5As God maar wou begin praat

en jou wou weerspreek,

6jou wou vertel hoe ingewikkeld die wysheid is,

en hoeveel dit vra om iets blywends tot stand te bring!

Dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.

7“Kan jy begryp wie God werklik is?

Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?

8Dit is kennis wat hoër is as die hemele.

Hoe kan jý daarby uitkom?

Dit is kennis wat dieper is as die doderyk.

Hoe kan jy dit bereik?

9Dit strek verder as die aarde,

wyer as die see.

10“As God in die verbygaan iemand gevange neem

en voor die gereg bring, wie sal Hom keer?

11God ken skynheilige mense,

Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.

12'n Idioot kan nie verstand kry nie,

net so min as wat 'n wildedonkievul 'n mens is as hy gebore word.

13Maar jy, as jy jou verstand reg wil gebruik

en jou hande in gebed na God toe uitsteek,

14as jy jou sonde van jou af sou verwyder

en nie toelaat dat onreg in jou woon nie,

15kan jy jou kop sonder skaamte oplig

en in die nood kom sonder om bang te wees,

16kan jy jou swaarkry vergeet

en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het.

17Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag,

jou donker sal lig word soos die môre.

18Jy sal gerus wees omdat daar vir jou vooruitsigte is,

jy sal jou lêplek regmaak en rustig slaap.

19Jy sal gaan lê en vir niemand bang wees nie,

en baie mense sal jou guns soek.

20Maar die oë van die goddeloses sal toegaan,

daar is geen uitkoms vir hulle nie:

al vooruitsig wat hulle het, is om die laaste asem uit te blaas.”

Job: Wie weet nie al die dinge nie?

1Toe het Job weer gepraat:

2“Werklik, julle is die enigste mense wat iets weet!

Met julle sterf die wysheid uit!

3Ek het ook verstand, net soos julle,

ek staan nie vir julle terug nie.

Wie weet nie al dié dinge nie?

4“Ek is 'n grap vir my vriende,

en dít iemand wat tot God roep en van Hom antwoord kry.

'n Regverdige, 'n vrome wat 'n grap is!

5Vir dié wat geen kommer ken nie,

pas ongeluk en smaad bymekaar,

by dié wat struikel, pas 'n skop.

6In die huise van die rowers is daar rus,

en dié wat God se toorn verwek, is veilig,

dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het.

7“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,

die voëls daarbo om jou te vertel,

8of praat met die aarde dat dit jou leer

en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.

9Wie van hulle weet nie almal

dat die hand van die Here alles gemaak het nie?

10Hy het al wat lewe, in sy mag,

die asem van elke mens.

11Moet die oor nie woorde toets

soos die verhemelte kos proe nie?

12“Wysheid kom in die gryse ouderdom

en insig na baie jare.

13By God is wysheid en krag,

by Hom is raad en insig.

14As Hy afbreek, kan niemand opbou nie,

as Hy gevange neem, kan niemand vrylaat nie.

15As Hy die water terughou, verdroog alles,

as Hy dit laat losbreek, vernietig dit die aarde.

16By Hom is daar mag en oorwinning,

wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne.

17Hy laat raadgewers van konings kaalvoet loop

en maak van regeerders gekke.

18Hy vernietig die gesag van konings

en laat hulle slaweklere dra.

19Hy laat priesters kaalvoet loop

en laat dié wat die mag het, ondergaan.

20Hy laat die betroubares swyg

en verydel die goeie raad van leiers.

21Hy laat smaad afkom op die koppe van die vernames

en Hy neem die mag van sterkes weg.

22Hy gee lig in donker dieptes,

Hy maak donker plekke lig.

23Hy maak nasies groot en Hy vernietig hulle,

Hy laat nasies uitbrei en laat hulle tot niet gaan.

24Hy ontneem wêreldleiers hulle verstand

en laat hulle ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad.

25Hulle tas in die donker rond sonder lig,

Hy laat hulle ronddwaal soos dronkmense.

1Ek het dit alles met my eie oë gesien

en met my eie ore gehoor en ek het dit verstaan.

2Wat julle weet, weet ek ook,

ek staan nie vir julle terug nie.

3Maar ek wil eintlik met die Almagtige praat,

ek wil my saak aan God stel.

4Julle stapel die een leuen op die ander,

julle is kwaksalwers, julle almal.

5As julle maar liewer net wou stilbly,

sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word.

6“Luister na my kant van die saak,

neem my argumente in ag:

7Wil julle vir God intree met onreg

en sy saak bepleit met leuens?

8Wil julle vir Hom partydig wees?

Wil julle God se saak verdedig?

9As Hy julle sou ondersoek,

sou dit vir julle goed verloop?

Sou julle Hom kon bedrieg soos julle mense bedrieg?

10Hy sal julle swaar straf

as julle in die geheim partydig is.

11Sy verhewe mag sal julle met skrik vervul,

skrik vir Hom sal julle oorval.

12Julle beroep op die voorgeslag is wind,

julle verweer sê niks.”

Job: Ek moet my saak vir God stel

13“Bly liewer stil, ek wil praat,

en laat dan kom wat wil.

14Waarom waag ek my lewe

en neem ek dit in my hand?

15Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie,

ek moet my saak vir Hom stel.

16Dit kan selfs my redding wees,

want geen godlose durf voor Hom kom nie.

17Luister goed na my woorde, neem ter harte wat ek te sê het:

18Kyk, ek het my regsaak voorberei,

ek weet dat ek reg het.

19As iemand 'n saak teen my het,

sou ek swyg en sterf.

20U, my God, moet net twee dinge vir my doen,

dan sal ek nie vir U wegkruip nie:

21neem u straf van my af weg

en moenie dat die skrik vir U my oorval nie.

22“Roep my, en ek sal antwoord,

of anders, laat ék praat en antwoord Ú my:

23Hoeveel misdade en sondes het ek begaan?

Wys my wat my oortredings en my sondes is!

24Waarom vermy U my

en beskou U my as u vyand?

25Wil U 'n verwaaide blaar skrikmaak,

'n droë stoppel agtervolg

26dat U so 'n bitter lyding vir my beskik

en my laat boet vir die sondes van my jeug?

27U bind 'n blok aan my voete,

U hou elke voetstap van my dop,

U merk my, waar ek ook al gaan.

28“En dít 'n mens wat vergaan soos iets wat verrot,

soos 'n stuk klere wat deur motte gevreet is.”

Job: Die mens se lewe is kort en vol onrus

1“Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.

2Hy is soos 'n blom wat oopgaan en dan verlep,

'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie.

3Dit is so 'n mens vir wie U in die oog hou,

vir wie U in 'n regsgeding met U wil betrek.

4Wie kan rein uit onrein laat voortkom?

Niemand nie!

5“Die mens se dae is vasgestel,

U het die getal van sy jare bepaal,

U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.

6U moet van hom af wegkyk en hom met rus laat

totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het.

7Vir 'n boom is daar nog hoop;

al is dit afgekap, kan dit weer uitloop,

en sy lote sal aanhou groei.

8Al word sy wortels oud in die aarde

en al gaan sy stam dood in die grond,

9spruit hy weer uit as hy net water ruik,

en groei sy takke asof hy pas geplant is.

10Maar die mens sterf en verdwyn,

hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy?

11Soos water uit die see verdamp,

en 'n rivier opdroog,

12so ontslaap die mens en staan nie weer op nie;

totdat die hemel nie meer daar is nie,

sal hy nie wakker skrik nie,

nie weer wakker gemaak word nie.

13As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek,

my daar wou hou tot u toorn afgekoel het,

as U maar liewer 'n tyd vir my wou vasstel

en dan weer aan my wou dink!

14“As 'n mens sterf, sal hy weer lewe?

Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag

tot daar vir my nuwe lewe kom.

15Dan sou U my roep en ek U antwoord

en sou U graag weer die maaksel van u hande wou sien.

16Dan sou U elke tree tel wat ek gee,

maar nie ag gee op my sonde nie.

17Dan sou U my oortreding in 'n sak verseël

en my sonde toemaak.

18Maar soos 'n berg in stukke breek

en 'n rots uit sy plek losgeruk word,

19soos water klippe verweer,

'n wolkbreuk die grond wegspoel,

so vernietig U die hoop van die mens.

20U oorweldig hom vir altyd en hy verdwyn,

hy kom te sterwe, U neem hom weg.

21Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie,

hulle word verkleineer, maar hy is nie daarvan bewus nie.

22Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam,

die smart wat aan hom bly vreet.”

God se verkiesing van Israel

1In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.

6Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. 9Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,” was immers 'n belofte.

10En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. 11-13Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

14Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! 15Vir Moses het Hy gesê:

“Ek sal barmhartig wees

oor wie Ek barmhartig wil wees,

en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.”

16Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. 17In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”

18Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Die oordeel en genade van God

19Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?”

20Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” 21Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? 22En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. 23So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê. 24En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. 25So sê Hy dan ook in die boek Hosea:

“Hulle wat nie my volk is nie,

sal Ek roep om my volk te wees,

en haar wat geen liefde ontvang het nie,

om my geliefde te wees.”

26“En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is:

‘Julle is nie my volk nie,’

sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”

27En Jesaja roep van Israel dít uit:

“Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see,

net die handjievol wat oorbly, sal gered word,

28want die Here gaan eens en vir altyd

hier op aarde die saak afhandel.”

29So het Jesaja trouens al vroeër gesê:

“As die Here, die Almagtige,

nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie –

soos met Sodom sou dit met ons gegaan het,

soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”

Israel en die evangelie

30Wat is nou ons gevolgtrekking?

Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. 31Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie.

32Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel 33waarvan daar geskrywe staan:

“Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel,

'n rots waarteen jy jou stamp,

maar wie in Hom glo,

sal nie teleurgestel word nie.”

1Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.

Die verlossing is vir elkeen wat glo

5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7“of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8Nee, die Skrif sê:

“Naby jou is die woord,

in jou mond en in jou hart.”

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig:

9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:

“Niemand wat in Hom glo,

sal teleurgestel word nie.”

12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

16Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

18Maar 'n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?

Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:

“Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink,

hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.”

19Of 'n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê:

“Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie 'n volk is nie,

en julle kwaad maak oor 'n volk wat nie julle kennis het nie.”

20En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God:

“Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie,

Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.”

21Maar van Israel sê Hy:

“Dag vir dag het Ek my hande

uitgesteek na 'n ongehoorsame en weerspannige volk.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS