Job: Hy wat vir my getuig, is daar bo
1Toe het Job weer gepraat:
2“Hierdie soort argument het ek al baie gehoor.
Julle is almal maar hopelose troosters.
3Kom daar dan geen einde aan julle sinlose gepraat nie?
Wat pla julle dat julle die laaste woord wil hê?
4Ek sou ook soos julle kon praat
as julle sou ly wat ek te ly het.
Dan kon ek medelye met julle betoon
en my kop meewarig oor julle skud.
5Ek sou julle kon bemoedig met my woorde,
maar niksseggende woorde sou ek terughou.
6Maar my pyn sal nie ophou as ek praat nie,
dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie.
7Nou het God my afgetakel,
Hy het my hele gesin uitgewis.
8Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my;
my vervalle toestand staan op en getuig teen my.
9God het my in sy toorn verskeur en vervolg,
in sy woede het Hy my lewe bedreig,
Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.
10Mense rek hulle monde oor my,
hulle beledig my,
hulle sak op my toe.
11God het my oorgelewer aan slegte mense,
Hy het my in die hande van goddeloses laat val.
12Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus,
Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis.
Hy het van my 'n teiken gemaak:
13sy pyle tref my hele liggaam,
meedoënloos deurboor Hy my niere
en my gal loop uit op die grond.
14Wond op wond dien Hy my toe,
soos 'n soldaat storm Hy op my af.
15Ek het vir my 'n roukleed gemaak,
my eer het in die stof verdwyn.
16Ek het my oë rooi gehuil,
daar is swart kringe onder my oë.
17Tog is ek nie skuldig aan geweld nie
en is my gebed opreg.
18Moenie die onreg teen my verberg nie, aarde,
moenie dat my noodkrete tot rus kom nie.
19Selfs nou nog het ek 'n getuie in die hemel,
Hy wat vir my getuig, is daar bo.
20My vriende het my bespotters geword,
daarom pleit ek met trane by God
21dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen 'n mens en Hom
soos in 'n saak tussen 'n man en sy vriend,
22want my jare is min en gaan verby,
en ek gaan na die plek toe
waarvandaan niemand terugkom nie.”