Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 161

Job 4–7, Romeine 4–5

Bybelteks(te)

Elifas: Wie het onskuldig te gronde gegaan?

1Toe sê Elifas die Temaniet:

2“Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer?

Ek kan nie stilbly nie.

3Jy het self baie mense reggehelp

en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat.

4Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur,

dié wat wou val, het jy weer opgehelp.

5Nou het die ramp jou getref, en jy is platgeslaan;

dit het jou oorgekom, en jy is verslae.

6Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie,

gee jou vrome lewe jou geen hoop nie?

7“Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?

Waar is regverdiges ooit uitgewis?

8Ek het ondervind: dié wat onreg plant

en moeilikheid saai, oes dit ook.

9Deur die toorn van God gaan hulle te gronde,

deur sy woede gaan hulle tot niet.

10Hulle is soos leeus,

maar hoe 'n leeu ook al brul of grom,

as sy tande uitgebreek word,

11gaan selfs die sterkste leeu dood van die honger

en kom sy kleintjies om.”

Elifas: Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God?

12“'n Woord het geheimsinnig by my gekom,

my oor het die fluistering daarvan opgevang.

13In die tyd wanneer ander diep slaap,

is ek ontstel deur 'n gesig in die nag.

14Vrees en angs het my oorval,

my liggaam het verskriklik gebewe.

15'n Gees het voor my verby gesweef,

en my hare het orent gaan staan.

16“Die gees het stil gaan staan.

Hoe hy lyk, kon ek nie sien nie,

daar was net 'n gedaante voor my.

Dit was stil en toe hoor ek 'n stem:

17‘Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God

en sonder blaam voor sy Maker staan?

18In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie,

voor Hom is selfs sy engele vol gebreke,

19hoeveel te meer hulle wat in huise van klei woon,

mense wat uit stof opgebou is,

mense wat soos 'n mot pap gedruk kan word.

20Tussen oggend en aand word hulle vernietig,

hulle verdwyn vir altyd en word vergeet,

21hulle gaan tot niet,

hulle sterf sonder dat hulle wysheid verwerf het.’

1Roep maar! Niemand sal jou antwoord nie.

Is daar selfs 'n engel na wie jy jou sou kon wend om hulp?

2“Verbitterdheid maak 'n dwaas dood,

onbeheerstheid vernietig 'n onverstandige.

3Ek het gesien dat 'n dwaas wortel skiet,

maar skielik tref 'n ramp sy huis

4en daar is geen hulp vir sy kinders nie;

hulle word veronreg in die hof

en niemand behartig hulle saak nie.

5“Wat 'n dwaas geoes het, word deur honger mense opgeëet;

hulle haal dit uit selfs waar dit tussen die dorings weggepak is.

Dié wat niks het nie, gryp gretig na sy besittings.

6Ellende kom nie sommerso uit die grond uit op nie,

swaarkry skiet nie sommer uit die aarde uit op nie.

7Die mens is vir swaarkry gebore,

en sy lewe is kortstondig soos 'n vonk wat opskiet.”

Elifas: God maak gesond

8“As ek jý was, sou ek my tot God wend

en my saak aan Hom voorlê.

9Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik,

wonder op wonder.

10Dit is Hy wat reën op die aarde gee,

wat water oor die veld uitgiet.

11Dit is Hy wat die vertraptes weer optel,

wat uitkoms gee aan dié wat ly.

12Dit is Hy wat die planne van slinkse mense verydel

sodat hulle niks blywends tot stand bring nie.

13Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne;

wat geslepe mense besluit, maak Hy gou tot niet.

14Helder oordag oorval die donkerte hulle,

in die middel van die dag tas hulle rond asof dit nag is.

15Dit is God wat die arm mens red van hulle vals beskuldigings

en uit die mag van die sterkes.

16So is daar hoop vir die behoeftige

en kom die onreg tot 'n einde.

17“Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word.

Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie.

18Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle weer,

wat seer slaan, maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.

19Al tref 'n ramp jou ses of sewe keer, Hy sal jou red,

selfs 'n hoeveelste keer sal dit jou geen kwaad aandoen nie.

20In hongersnood sal Hy jou red van die dood,

in oorlog sal Hy jou red van die swaard.

21Jy sal beskerm word teen venynige tonge;

en as daar rampe kom, hoef jy nie bang te wees nie.

22Onder rampe en in hongersnood sal jy opgewek bly,

en vir die wilde diere hoef jy nie bang te wees nie.

23Van die klippe in die veld sal jy geen las hê nie,

en met die wilde diere sal jy in vrede leef.

24Jy sal ondervind dat jou woonplek veilig is,

en jy sal jou weiveld besoek en niks mis nie.

25Jy sal 'n groot nageslag hê,

jou nakomelinge sal so veel wees soos die gras in die veld.

26Jy sal op rype ouderdom die graf ingaan

soos 'n gerf wat op sy tyd na die dorsvloer toe gebring word.

27“Kyk, dit het ons ontdek, so is dit,

luister daarna en neem dit ter harte.”

Job: Ek weet nie meer raad nie

1Toe het Job weer gepraat:

2“As my bittere ellende maar geweeg kon word,

as die ongeluk wat my getref het, op 'n skaal gesit kon word,

3sou dit swaarder weeg as die sand van die see.

Daarom het ek nie gedink wat ek sê nie.

4Die pyle van die Almagtige deurboor my,

ek word geleidelik deur hulle vergiftig.

Verskrikkinge van God bedreig my.

5Balk 'n wildedonkie as hy by gras kom?

Bulk 'n bees by sy voer?

6Eet 'n mens smaaklose kos, kos sonder sout?

Het die wit van 'n eier enige smaak?

7“Ek raak nie aan sulke kos nie,

dit maak my siek.

8Ag, mag my gebed verhoor word,

mag God vir my gee wat ek begeer:

9mag Hy dit goeddink om my te vernietig,

om my lewe met sy hand af te kap!

10Dan sou ek nog dié troos hê,

die vreugde in die pyn wat Hy my nie gespaar het nie:

dat ek die woorde van die Heilige nie geminag het nie.

11“Het ek nog die krag om dit uit te hou?

Kan ek nog geduldig op my einde wag?

12Is ek dan so sterk soos klip,

is ek van brons gemaak?

13Self is ek tot niks in staat nie.

Ek weet nie meer raad nie.

14“Wie medelye met 'n vriend beskou as 'n las,

het die eerbied vir die Almagtige verwerp.

15My vriende is so onbetroubaar soos die water van 'n spruit,

soos 'n droë loop waarin vloedwaters afkom,

16vol modder en hael, met sneeu wat bo-op dryf,

17maar wat na 'n tyd afloop en verdwyn

en wegraak as dit warm word.

18Reisigers draai af na die spruit toe,

maar beland in 'n droë wêreld en kom om.

19Reisigers van Tema af is op die uitkyk na water,

dié wat van Skeba af kom, vestig hulle hoop daarop,

20maar hulle hoop word beskaam,

hulle kom by die spruit, en daar is niks.

21“Só het julle vir my geword.

Julle het skaars my treurige toestand gesien of julle skrik.

22Het ek ooit vir julle gesê: ‘Gee vir my iets

of koop iemand vir my om met julle geld,

23red my van 'n vyand

of koop my los uit die mag van verdrukkers’?

24Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly,

sê my waar ek verkeerd gedoen het.

25Opregte woorde maak nie seer nie,

maar 'n bestraffing deur júlle is geen bestraffing nie.

26Wil julle my bestraf oor wat ek gesê het,

beskou julle die woorde van 'n wanhopige as blote wind?

27Julle trek lootjies selfs oor 'n weeskind

en verkwansel julle vriend vir wins.

28Maar kyk nou na my geval,

ek sal tog nie in julle gesig vir julle lieg nie.

29Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie,

besin julle, my saak is reg.

30Het ek onreg gepleeg met wat ek gesê het,

weet ek nie wat 'n ramp is nie?”

Job: Wat is die mens?

1“Is 'n mens se lewe op aarde nie maar harde arbeid nie,

en sy dae soos dié van 'n dagloner nie?

2Sy lewe is soos dié van 'n slaaf wat smag na koelte,

soos dié van 'n dagloner wat verlang na betaaltyd.

3So bring ek my maande deur met swaarkry,

my nagte is net smart.

4As ek gaan slaap, dink ek:

wanneer kan ek opstaan?

Maar die nag sleep stadig verby

en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.

5My liggaam is oortrek van wurms, vol rowe en stof,

my vel is vol barste en dit etter aanhoudend.

6My dae loop vinnig soos 'n wewerspoel,

die draad raak gou op.

7Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net 'n asempie is;

ek sal nooit weer voorspoed beleef nie.

8Die oë wat my nou sien, sal my nie weer sien nie:

U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.

9Soos 'n wolk weggaan en verdwyn,

so gaan 'n mens dood en kom nie terug nie,

10hy kom nooit terug na sy huis toe nie,

en sy plek is vir altyd leeg.

11“Nee, ek kan nie stilbly nie,

in my beproewing wil ek praat,

in my bitter lyding wil ek kla.

12Is ek dan die see dat U my aan bande wil lê,

of 'n seemonster dat U my laat bewaak?

13As ek dink dat my bed my sal troos

of dat ek verligting van die pyn sal kry as ek lê,

14dan verskrik U my in my drome,

en oorval U my met nagmerries,

15sodat ek eerder verwurg

en dood sou wou wees as om te lewe.

16Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie;

laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.

17“Wat is die mens dat U soveel van hom maak,

dat U hom so op die hart dra,

18dat U hom van dag tot dag toets,

hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?

19Wil U nie van my af wegkyk

en my 'n oomblikkie laat asem skep nie?

20As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig,

U wat die mens gedurig oppas?

Waarom het U my u teiken gemaak?

Waarom moet ek vir U 'n las wees?

21Waarom vergewe U dan nie my sonde

en vergeet wat ek verkeerd gedoen het nie?

Binnekort sal ek in die graf lê,

U sal my soek, maar ek sal nie meer lewe nie.”

Die voorbeeld van Abraham

1Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 4'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:

7“Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.

8Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”

9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek.” 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.

Wat belowe is, word deur die geloof verkry

13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Die vrug van die vryspraak

1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Adam en Christus

12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie 'n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS