Job: Wat is die mens?
1“Is 'n mens se lewe op aarde nie maar harde arbeid nie,
en sy dae soos dié van 'n dagloner nie?
2Sy lewe is soos dié van 'n slaaf wat smag na koelte,
soos dié van 'n dagloner wat verlang na betaaltyd.
3So bring ek my maande deur met swaarkry,
my nagte is net smart.
4As ek gaan slaap, dink ek:
wanneer kan ek opstaan?
Maar die nag sleep stadig verby
en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.
5My liggaam is oortrek van wurms, vol rowe en stof,
my vel is vol barste en dit etter aanhoudend.
6My dae loop vinnig soos 'n wewerspoel,
die draad raak gou op.
7Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net 'n asempie is;
ek sal nooit weer voorspoed beleef nie.
8Die oë wat my nou sien, sal my nie weer sien nie:
U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.
9Soos 'n wolk weggaan en verdwyn,
so gaan 'n mens dood en kom nie terug nie,
10hy kom nooit terug na sy huis toe nie,
en sy plek is vir altyd leeg.
11“Nee, ek kan nie stilbly nie,
in my beproewing wil ek praat,
in my bitter lyding wil ek kla.
12Is ek dan die see dat U my aan bande wil lê,
of 'n seemonster dat U my laat bewaak?
13As ek dink dat my bed my sal troos
of dat ek verligting van die pyn sal kry as ek lê,
14dan verskrik U my in my drome,
en oorval U my met nagmerries,
15sodat ek eerder verwurg
en dood sou wou wees as om te lewe.
16Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie;
laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.
17“Wat is die mens dat U soveel van hom maak,
dat U hom so op die hart dra,
18dat U hom van dag tot dag toets,
hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?
19Wil U nie van my af wegkyk
en my 'n oomblikkie laat asem skep nie?
20As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig,
U wat die mens gedurig oppas?
Waarom het U my u teiken gemaak?
Waarom moet ek vir U 'n las wees?
21Waarom vergewe U dan nie my sonde
en vergeet wat ek verkeerd gedoen het nie?
Binnekort sal ek in die graf lê,
U sal my soek, maar ek sal nie meer lewe nie.”