Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 162

Job 8–10, Romeine 6–8

Bybelteks(te)

Bildad: Sal God die reg verdraai?

1Toe sê Bildad die Suagiet:

2“Hoe lank gaan jy nog so praat?

Jou woorde kom soos 'n orkaan.

3Sal God die reg verdraai,

sal die Almagtige verdraai wat reg is?

4As jou kinders teen Hom gesondig het,

het Hy hulle vir hulle oortredings gestraf.

5As jy na die wil van God vra

en die Almagtige om genade smeek,

6as jy vlekkeloos is en reg het,

sal Hy jou weer in sy sorg neem

en jou gesond in jou huis terugbring.

7Die vermoë wat jy besit het, sal niks wees

teen die rykdom wat jy later sal besit nie.

8Vra na die bevindings van die voorgeslagte,

rig jou na die insigte van die voorvaders,

9want ons is maar net van gister, ons weet niks,

ons dae is so vlugtig soos 'n skaduwee op die grond.

10Leer uit wat jou voorgeslag gesê het.

Hulle het met insig verklaar:

11‘Groei riet waar daar nie 'n moeras is nie,

vleigras waar daar nie water is nie?

12Dit spruit wel uit,

maar dit is nog nie eers afgesny nie, dan verdroog dit al vinniger as enige ander soort gras.’

13“So gaan dit met hulle wat vir God vergeet.

Daar is geen hoop vir die godlose nie.

14Hy vertrou op 'n dun draadjie,

hy maak op 'n spinnerak staat.

15As hy teen sy huis leun, val dit om,

hy gryp daarna, maar dit bly nie staan nie.

16Hy is soos 'n welige plant in die son:

hy rank oral oor die tuin,

17hy vleg sy wortels om die klippe,

en klou vas aan die klipmuur.

18Maar as iemand hom uitroei,

is daar niks van hom oor nie.

19So kom hy tot sy einde

en in sy plek kom daar 'n ander.

20“God verwerp nooit die opregte nie

en staan ook nie dié by wat onreg doen nie.

21Hy sal jou weer vreugde gee,

jou van blydskap laat jubel.

22Dié wat jou haat, sal met smaad bedek word;

van die goddeloses bly daar niks oor nie.”

Job: Die wysheid en krag van God is groot

1Toe het Job weer gepraat:

2“Ek weet dit is soos jy sê:

Wie kan sy saak teen God wen?

3As jy 'n saak teen Hom sou wou voer,

sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.

4Die wysheid en krag van God is groot:

wie kan Hom teëstaan en niks oorkom nie?

5Hy verskuif berge sonder dat hulle dit self agterkom;

in sy toorn maak Hy hulle tot niet.

6Hy laat die aarde ruk, weg van sy fondamente af,

en sy pilare bewe.

7Hy gee opdrag aan die son en dit kom nie op nie,

Hy verseël die sterre en hulle skyn nie.

8Hy het die hemel soos 'n tent gespan, Hy alleen,

en Hy hou die golwe van die see in bedwang.

9Hy het die Beer en Orion gemaak,

die Sewester en die sterrebeelde in die suide.

10Wat Hy doen, is groot en ondeurgrondelik,

wonder op wonder.

11“As Hy by my verbygaan, gewaar ek Hom nie,

Hy sweef verby, maar ek kom dit nie agter nie.

12As Hy op iets beslag wil lê, wie sal Hom keer?

Wie sal vir Hom sê: ‘Wat doen U?’

13God hou sy toorn nie terug nie:

Rahab se helpers lê platgeslaan voor Hom.

14Sou ek kon antwoord op wat Hy vra?

Hoe sou ek my woorde teen Hom kies?

15Al was my saak reg,

sou ek nog nie kon antwoord op wat Hy vra nie,

ek sou Hom, my Regter, net om genade kon smeek.

16As ek na Hom sou roep en Hy my sou antwoord,

sou ek nie kon glo dat Hy my gehoor het nie,

17want dit is Hý wat my met 'n stormwind pynig,

wat my baie wonde slaan sonder dat ek dit verdien,

18wat my nie 'n kans gun om asem te skep nie,

maar my deurdrenk met bitter lyding.

19As dit gaan oor krag,

is Hý die sterke,

as dit gaan oor reg,

wie anders as Hý kan 'n klag teen my inbring?”

Job: skuldig of onskuldig, dit is om 't ewe

20“Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak;

al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.

21Ek ís onskuldig!

Ek gee nie meer om vir my lewe nie,

ek wil nie meer lewe nie.

22Eintlik is dit om 't ewe, daarom dink ek:

of 'n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou tog.

23As 'n vloedramp skielik die dood bring,

lag God oor die wanhoop van die onskuldiges.

24Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose,

en Hy maak die regters partydig.

As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?

25My dae skiet vinniger as 'n naelloper verby,

hulle vlieg verby sonder dat ek iets goeds beleef,

26hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote,

soos 'n arend wat afskiet op sy prooi.

27“As ek sou dink: ek wil ophou kla,

ek wil my houding verander en vrolik wees,

28dan word ek bang dat ek nog swaarder sal kry,

omdat ek weet dat God my nie

onskuldig gaan bevind nie.

29Aangesien ek tóg skuldig bevind sal word,

waarom sou ek my moeg maak?

30Al sou ek my was met sneeu,

al sou ek my hande skoon was met seep,

31God sou my weer in 'n modderpoel gooi,

sodat my klere my tot 'n aanstoot maak.

32Hy is nie 'n mens soos ek

dat ek op sy vrae sou kon antwoord nie,

dat ons in 'n hofsaak teen mekaar betrokke sou kon raak nie.

33As daar maar iemand was

wat in die saak tussen ons kon oordeel,

wat oor ons albei onpartydig kon regspreek,

34as daar maar iemand was

wat God se straf van my kon wegneem,

sodat sy verskrikking my nie skielik oorval nie,

35dan sou ek sonder vrees kon praat.

Maar soos sake nou met my staan, kan ek nie.”

Job: Laat my tog met rus

1“My hele lewe walg my,

daarom wil ek aan my klag vrye teuels gee

en in my bitterheid praat.

2Ek wil vir God sê: Moet my tog nie skuldig verklaar nie,

maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my.

3Vind U dit goed om my te laat swaar kry,

om wat U gemaak het, met veragting te behandel,

maar die planne van die goddeloses met sukses te bekroon?

4Kyk U met die oë van 'n mens?

Sien U dinge soos 'n mens hulle sien?

5Gaan u dae verby soos dié van 'n mens,

u jare soos sý jare,

6dat U rekenskap eis vir my oortredinge,

dat U verantwoording vra vir my sonde?

7“U weet dat ek nie skuldig is nie,

maar niemand kan my uit u hand red nie.

8U hande het my gevorm, my gemaak.

Gaan U my nou heeltemal vernietig?

9Dink daaraan dat U my soos klei gevorm het.

Gaan U my nou weer stof laat word?

10Het U my nie soos botter berei,

soos kaas gevorm nie?

11U het vir my vel en vleis gegee,

U het my bene en senings aanmekaargeweef.

12U het my die lewe gegee en my met liefde versorg,

met sorg het U oor my gewaak.

13Maar wat deur U verberg is,

wat ek weet U in gedagte gehad het, is dit:

14as ek sonde doen, sou U dit raaksien,

van my oortredinge sou U my nie vryspreek nie.

15As ek skuldig is, wag daar ellende vir my,

as ek onskuldig is, is daar vir my geen vreugde nie,

want ek is oorlaai met smaad en ek beleef net ellende.

16Sou ek moed skep, maak U soos 'n leeu jag op my

en staan U my weer voor in u onbegryplike mag.

17U roep nuwe getuies in teen my,

u woede laai op teen my;

aanslag op aanslag tref my.

18“Waarom het U my in die wêreld laat kom?

Ek moes liewer gesterf het voordat 'n oog my kon sien.

19Dan sou ek gewees het asof ek nooit bestaan het nie

en is ek by geboorte al graf toe gedra.

20My lewensdae is min genoeg,

laat my tog met rus dat ek darem 'n bietjie vreugde kan hê

21voordat ek weggaan na die stikdonker land toe

en nooit terugkeer nie,

22na die land van die donker nag met sy diep duisternis

waar niks georden is nie, waar die lig self donker is.”

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

1Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

In diens van wat God wil

15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen. 19Weens julle beperkte begrip gebruik ek 'n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, tóé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus

1Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe. 2Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. 3Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie. 4Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. 5Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. 6Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.

Die wet en die sonde

7Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” 8Maar deur hierdie gebod het die sonde 'n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood. 9Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, 10en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. 11Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak.

12Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.

13Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is. 14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

Lewe deur die Gees

1Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape behandel word.”

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS