Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 160

Job 1–3, Romeine 1–3

Bybelteks(te)

Job word deur rampe getref

1In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. 2Hy het sewe seuns en drie dogters gehad 3en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. 4Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. 5Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.”

Job het dit elke keer gedoen.

6Op 'n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan, en die Satan was ook onder hulle. 7Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”

En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”

8Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”

9Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! 10U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. 11Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”

12Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.”

Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.

13En eendag, toe Job se seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, 14kom 'n boodskapper by Job met die nuus: “Die osse was aan die ploeg, en die donkies het langsaan gewei. 15Toe oorval mense uit Skeba ons en hulle roof alles en maak die slawe dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

16Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Weerlig het die kleinvee en hulle wagters doodgeslaan en verbrand. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

17Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Drie groepe Galdeërs het die kamele geroof en is daarmee weg nadat hulle die slawe doodgemaak het. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

18Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer. 19Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

20Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:

21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom

en sonder iets gaan ek daaruit.

Die Here het gegee en die Here het geneem.

Prys die Naam van die Here.”

22Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

Die Satan tref vir Job met pynlike swere

1Toe die hemelwesens weer op 'n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan. 2Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”

En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”

3Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”

4Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys nog niks. 'n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe. 5Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.”

6Toe sê die Here vir die Satan: “Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.”

7Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone. 8Job het op 'n ashoop gaan sit en hy het 'n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. 9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos 'n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

Job vervloek sy geboortedag voor sy vriende

11Drie van Job se vriende het verneem van al die rampe wat hom oorgekom het. Hulle het elkeen van sy eie plek af gekom, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het afgespreek om deelneming met hom te betuig en hom te troos. 12Toe hulle hom op 'n afstand sien, het hulle hom eers nie herken nie. Daarna het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi. 13Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om 'n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is.

1Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.

2Hy het gesê:

3“Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie,

die nag toe gesê is 'n seuntjie het in die wêreld gekom.

4Daardie dag moes net donkerte gewees het;

God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie;

geen lig moes dié dag deurgebreek het nie.

5Donkerte en duisternis moes dit opgeëis het,

wolke moes daaroor toegetrek het,

sonsverduistering moes dit oorval het.

6Die donkerte moes daardie nag ingesluk het,

dit moes nooit ingereken gewees het

by die dae van die jaar nie,

dit moes nooit bygevoeg gewees het

by die berekening van die maande nie.

7“Ja, daardie nag moes niemand gebore gewees het nie,

daar moes geen blydskap gewees het nie.

8Wie dae vervloek, moes ook dié dag vervloek het,

hulle moes die Leviatan aangehits het om dit te vernietig.

9Die môrester moes verduister gewees het,

hy moes tevergeefs gewag het op die lig

en nooit die dag sien breek het nie,

10want hy het nie gekeer dat ek gebore word nie,

my hierdie smart nie gespaar nie.

11Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie,

net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie?

12Waarom was daar knieë om my op neer te sit,

borste om my te voed?

13Anders kon ek nou stil in die graf gelê het,

rustig in die dood geslaap het

14saam met konings en hulle raadgewers

wat puinhope herbou het,

15of saam met vorste wat goud besit het,

wat hulle huise vol silwer gemaak het.

16“Waarom was ek nie maar 'n misgeboorte

wat sonder meer begrawe is nie,

'n doodgebore kind wat nooit die daglig gesien het nie?

17Dan sou ek daar gewees het

waar die goddeloses nie meer kwaad stook nie,

waar dié wat gedaan is, rus vind,

18waar die gevangenes saam rus geniet

en nie meer die stem van die slawedrywer hoor nie;

19daar waar klein en groot saam is,

waar die slaaf vry is van sy eienaar.

20“Waarom moes God dan die lewenslig gee

aan 'n man wat net swaar kry,

waarom moes Hy lewe gee aan 'n man wat so bitter ly,

21aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood,

wat daarna soek soos na 'n verborge skat,

22wat maar te bly sou wees om in 'n graf te kom

en daaroor sou jubel?

23“Waarom die lewenslig gee aan 'n man

wat vir hom geen pad vorentoe sien nie,

'n man vir wie God van alles afgesny het?

24“Ek kan nie eet van die pyn nie,

ek kan nie ophou kreun nie.

25Wat ek gevrees het, het oor my gekom;

waarvoor ek bang was, het my getref.

26Ek het geen rus en geen vrede nie,

geen verposing nie, net angs.”

1Van Paulus, 'n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.

2Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Paulus se dank, verlange en verpligting

8Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. 9God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. 10Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie. 11Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil 'n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. 12Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne.

13Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. 14Ek staan onder 'n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, 15en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.

16Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Die sonde en die straf

18God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. 19Wat 'n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. 20Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, 21omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. 22Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. 23In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.

24Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. 25Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen. 26Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in 'n teen-natuurlike omgang. 27Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. 28En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. 29Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en 30praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. 32Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.

Die regverdige oordeel van God

1Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. 2Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. 3Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom? 4God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? 5Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. 6Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: 7aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; 8maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn. 9Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. 10Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. 11God trek immers niemand voor nie.

Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie

12Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word. 13Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word. 14Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie. 15Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word. 16Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

Die Jode en die wet

17Jy, jy sê jy is 'n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, 18jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. 19Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir dié wat in die duisternis is, 20'n leermeester van dié wat onkundig is, 'n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid – 21jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy nie? 22Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat 'n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie? 23Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? 24Inderdaad, soos daar geskrywe staan, “as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”

Die besnydenis sonder meer het nie waarde nie

25Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie. 26As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie? 27Ja, iemand wat kragtens sy afkoms 'n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree. 28Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie

1Het dit dan enige voordeel om 'n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? 2Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. 3Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? 4Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens 'n leuenaar, soos daar geskrywe staan:

“U is regverdig wanneer U uitspraak doen

en U wen u saak wanneer U aangekla word.”

5Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie? 6Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel? 7Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel? 8Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien.

Niemand is regverdig nie

9Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10Daar staan immers geskrywe:

“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,

11daar is nie een wat verstandig is nie;

daar is nie een wat na die wil van God vra nie.

12“Almal het afgedwaal,

almal het ontaard.

Daar is nie een wat goed doen nie,

selfs nie een nie.

13“Hulle keel is 'n oop graf,

met hulle tonge bedrieg hulle.

Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange,

14hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.

15“Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.

16Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter.

17Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,

18ontsag vir God het hulle nie.

19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.

God verlos die mens

21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25-26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS