Job: Ek weet nie meer raad nie
1Toe het Job weer gepraat:
2“As my bittere ellende maar geweeg kon word,
as die ongeluk wat my getref het, op 'n skaal gesit kon word,
3sou dit swaarder weeg as die sand van die see.
Daarom het ek nie gedink wat ek sê nie.
4Die pyle van die Almagtige deurboor my,
ek word geleidelik deur hulle vergiftig.
Verskrikkinge van God bedreig my.
5Balk 'n wildedonkie as hy by gras kom?
Bulk 'n bees by sy voer?
6Eet 'n mens smaaklose kos, kos sonder sout?
Het die wit van 'n eier enige smaak?
7“Ek raak nie aan sulke kos nie,
dit maak my siek.
8Ag, mag my gebed verhoor word,
mag God vir my gee wat ek begeer:
9mag Hy dit goeddink om my te vernietig,
om my lewe met sy hand af te kap!
10Dan sou ek nog dié troos hê,
die vreugde in die pyn wat Hy my nie gespaar het nie:
dat ek die woorde van die Heilige nie geminag het nie.
11“Het ek nog die krag om dit uit te hou?
Kan ek nog geduldig op my einde wag?
12Is ek dan so sterk soos klip,
is ek van brons gemaak?
13Self is ek tot niks in staat nie.
Ek weet nie meer raad nie.
14“Wie medelye met 'n vriend beskou as 'n las,
het die eerbied vir die Almagtige verwerp.
15My vriende is so onbetroubaar soos die water van 'n spruit,
soos 'n droë loop waarin vloedwaters afkom,
16vol modder en hael, met sneeu wat bo-op dryf,
17maar wat na 'n tyd afloop en verdwyn
en wegraak as dit warm word.
18Reisigers draai af na die spruit toe,
maar beland in 'n droë wêreld en kom om.
19Reisigers van Tema af is op die uitkyk na water,
dié wat van Skeba af kom, vestig hulle hoop daarop,
20maar hulle hoop word beskaam,
hulle kom by die spruit, en daar is niks.
21“Só het julle vir my geword.
Julle het skaars my treurige toestand gesien of julle skrik.
22Het ek ooit vir julle gesê: ‘Gee vir my iets
of koop iemand vir my om met julle geld,
23red my van 'n vyand
of koop my los uit die mag van verdrukkers’?
24Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly,
sê my waar ek verkeerd gedoen het.
25Opregte woorde maak nie seer nie,
maar 'n bestraffing deur júlle is geen bestraffing nie.
26Wil julle my bestraf oor wat ek gesê het,
beskou julle die woorde van 'n wanhopige as blote wind?
27Julle trek lootjies selfs oor 'n weeskind
en verkwansel julle vriend vir wins.
28Maar kyk nou na my geval,
ek sal tog nie in julle gesig vir julle lieg nie.
29Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie,
besin julle, my saak is reg.
30Het ek onreg gepleeg met wat ek gesê het,
weet ek nie wat 'n ramp is nie?”