Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 134

Ester 8–10, Psalms 12, 14 & 15

Bybelteks(te)

Die Jode kry die reg om hulle te verdedig

1Dieselfde dag het koning Ahasveros die eiendom van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Ester het aan die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is, en hy het toe voor die koning verskyn. 2Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit aan Mordegai gegee. Ester het toe vir Mordegai oor die eiendom van Haman aangestel.

3Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak. 4Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan 5en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. 6Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so 'n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?”

7Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei. 8Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode. Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. 'n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.”

9Toe is die skrywers van die koning dadelik ontbied. Dit was op die drie en twintigste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die leiers in die honderd sewe en twintig provinsies van Indië af tot by Kus wou beveel. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook aan die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf. 10Mordegai het geskryf in die naam van koning Ahasveros en die briewe verseël met die seëlring van die koning. Die briewe is uitgestuur met boodskappers op resiesperde uit die koninklike stalle. 11Die briewe het gelui dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. 12Dit alles kon hulle doen in al die provinsies van koning Ahasveros op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. 13Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees, sodat die Jode op dié bepaalde dag gereed kon wees om hulle op hulle vyande te wreek.

14Die boodskappers op die perde uit die koninklike stalle het toe baie haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel.

Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. 15Mordegai het van die koning af weggegaan in 'n koninklike kleed van blou en wit linne, met 'n groot goue kroon op, en 'n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig. 16Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en 'n gevoel van eiewaarde. 17In elke provinsie en in elke stad, orals waar die besluit en proklamasie van die koning bekend geword het, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het maaltye gehou en feesgevier. Ook het baie mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode.

Die Jode maak hulle vyande dood

1Die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, het aangebreek. Dit was die dag waarop die besluit en proklamasie van die koning moes uitgevoer word, die dag waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: die Jode het hulle vyande oorweldig. 2Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros om hulle te verdedig teen almal wat hulle ondergang soek. Niemand kon voor hulle standhou nie, al die volke was skrikbevange vir hulle. 3Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning het die Jode gesteun omdat hulle bang was vir Mordegai, 4want hy het 'n hoë posisie aan die hof beklee. Dit het deur al die provinsies bekend geword dat hierdie Mordegai al hoe meer mag gekry het.

5Die Jode het onder al hulle vyande 'n groot slagting met die swaard aangerig, hulle het hulle doodgemaak en uitgeroei. Hulle het met almal wat vir hulle haat, gemaak wat hulle wou. 6In die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak. 7Hulle het ook vir Parsandata, Dalfon, Aspata, 8Porata, Adalja, Aridata, 9Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata, 10die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en vyand van die Jode, doodgemaak. Op hulle besittings het hulle egter nie beslag gelê nie.

11Dieselfde dag nog het die koning berig gekry van die getal mense wat in die stad Susan doodgemaak is. 12Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nog in die ander provinsies van my ryk gedoen het! Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy 'n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.”

13Ester sê toe: “As die koning dit goedvind, laat die Jode in Susan toe om ook môre te doen wat hulle vandag kon doen. En laat die lyke van die tien seuns van Haman aan die galg ophang.”

14Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word, en so 'n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Ook is die lyke van die tien seuns van Haman opgehang. 15Die Jode in Susan het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog drie honderd man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie.

16Die Jode in die ander provinsies van die ryk het intussen bymekaargekom en hulle verdedig. Hulle het die bedreiging deur hulle vyande afgeweer en van hulle haters vyf en sewentig duisend man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie. 17Dit het gebeur op die dertiende van die maand Adar. Op die veertiende van die maand het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. 18Die Jode in Susan het egter op die dertiende én op die veertiende van die maand bymekaargekom. Hulle het eers op die vyftiende van die maand gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. 19Daarom maak die Jode op die platteland en dié wat in die klein dorpies woon, die veertiende van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.

Die Purimfees

20Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, 21en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier 22as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.

23So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar. 24Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. 25Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang. 26Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het, 27het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind. 28Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie.

29Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig. 30Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker. 31Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. 32Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.

Mordegai beywer hom vir sy mense

1Koning Ahasveros het die vasteland sowel as die eilande dwangarbeid laat doen. 2Al die groot en magtige dinge wat hy gedoen het en die volle verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai bevorder het, is opgeteken in die annale van die konings van Medië en Persië. 3Die Jood Mordegai was tweede in bevel onder koning Ahasveros. Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Die Here hou oor ons wag

1Vir die koorleier: met basstem. 'n Psalm van Dawid.

2Help tog, Here,

want daar is geen vrome meer nie,

daar is geen betroubare mens meer oor nie.

3Die mense bedrieg mekaar;

hulle mislei mekaar met vleitaal.

4Die Here sal al die vleitaal uitroei

en die grootpratery van die mense 5wat sê:

“In ons tong lê ons krag.

Ons lippe help ons.

Ons buig vir niemand nie.”

6Maar die Here sê:

“Die swakkes word mishandel

en die armes kla.

Daarom gryp Ek nou in

en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”

7Daar is niks vals in wat die Here sê nie.

Sy woorde is soos silwer

wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is.

8U, Here, hou oor ons wag.

U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm,

9selfs al pronk goddeloses nog rond

en al heers die gemeenheid nog tussen die mense.

God is aan die kant van die regverdiges

(Vgl. Ps. 53)

1Vir die koorleier. Van Dawid.

Die dwaas dink daar is geen God nie.

Dwase mense vernietig alles;

wat hulle doen, is 'n gruwel vir die Here.

Daar is nie een wat goed doen nie.

2Van die hemel af kyk die Here die mense deur

om te sien of daar één verstandige is,

één wat na die wil van God vra.

3Almal het afgedwaal,

die laaste een het ontaard;

daar is niemand wat goed doen nie,

selfs nie één nie.

4Julle almal wat onreg pleeg,

wat my volk opeet asof julle brood eet

en wat weier om die Here te dien –

weet julle dan nie

5dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur nie?

Omdat God aan die kant van die regverdiges is,

6sal daar niks kom van julle planne teen die hulpelose nie:

die Here bly sy toevlug.

7Ag, mag daar tog uit Sion vir Israel redding kom!

Wanneer die Here die lot van sy volk verander,

sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Wie het die reg om in die tempel te kom?

1'n Psalm van Dawid.

Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?

Wie mag op u heilige berg vertoef?

2Hy wat onberispelik wandel

en doen wat reg is,

wat met sy hele hart die waarheid praat,

3nie kwaadpraat nie,

sy medemens nie kwaad aandoen nie

en niemand beledig nie;

4hy wat dié verag wat deur God verwerp is,

maar almal eer wat die Here dien;

wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade,

5sy geld nie op rente uitleen nie

en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.

Wie hom hieraan hou,

sal nooit wankel nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS