ESTER 8
Die Jode kry die reg om hulle te verdedig
1Dieselfde dag het koning Ahasveros die eiendom van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Ester het aan die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is, en hy het toe voor die koning verskyn. 2Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit aan Mordegai gegee. Ester het toe vir Mordegai oor die eiendom van Haman aangestel.
3Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak. 4Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan 5en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. 6Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so 'n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?”
7Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei. 8Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode. Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. 'n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.”
9Toe is die skrywers van die koning dadelik ontbied. Dit was op die drie en twintigste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die leiers in die honderd sewe en twintig provinsies van Indië af tot by Kus wou beveel. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook aan die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf. 10Mordegai het geskryf in die naam van koning Ahasveros en die briewe verseël met die seëlring van die koning. Die briewe is uitgestuur met boodskappers op resiesperde uit die koninklike stalle. 11Die briewe het gelui dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. 12Dit alles kon hulle doen in al die provinsies van koning Ahasveros op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. 13Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees, sodat die Jode op dié bepaalde dag gereed kon wees om hulle op hulle vyande te wreek.
14Die boodskappers op die perde uit die koninklike stalle het toe baie haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel.
Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. 15Mordegai het van die koning af weggegaan in 'n koninklike kleed van blou en wit linne, met 'n groot goue kroon op, en 'n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig. 16Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en 'n gevoel van eiewaarde. 17In elke provinsie en in elke stad, orals waar die besluit en proklamasie van die koning bekend geword het, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het maaltye gehou en feesgevier. Ook het baie mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode.
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.