Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 133

Ester 1–7

Bybelteks(te)

Koningin Vasti weier koning Ahasveros se versoek

1Dit was in die tyd van Ahasveros. Hy het geregeer oor 'n ryk van honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus. 2In die tyd toe sy troon in die vestingstad Susan was, 3in die derde jaar van sy regering, het hy 'n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die provinsies was teenwoordig. 4By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon. 5Daarna het die koning almal in die stad Susan, groot en klein, 'n week lank in die paleistuin onthaal. 6Daar het wit en bloedrooi linnedoeke gehang wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan marmerpilare. Verder was daar silwer- en goue rusbanke op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip. 7Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en daar was 'n oorvloed koninklike wyn soos 'n mens van 'n koning kon verwag. 8Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel.

9Koningin Vasti het intussen ook die vrouens onthaal in die paleis van koning Ahasveros.

10Op die sewende dag, toe die koning baie vrolik was van die wyn, het hy sewe paleisbeamptes geroep: Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas. 11Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te laat kom sodat hy vir al die mense, al die hoë amptenare, kon wys hoe mooi sy is. Sy was 'n baie mooi vrou.

12Koningin Vasti het egter geweier om te kom soos die koning haar deur sy paleisbeamptes beveel het. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend 13en het raad gevra by sy adviseurs wat geweet het hoe en wanneer om op te tree, want dit was gebruiklik dat die koning die kenners van wet en reg sou raadpleeg. 14Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was by die koning. Hulle was die sewe hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het en die hoogste poste in die koninkryk beklee het. 15Hy vra hulle toe: “Wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti wat nie gehoorsaam was aan die bevel van die koning deur sy paleisbeamptes nie?”

16Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenare en al die mense in al die provinsies van die koning. 17Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie.’ 18Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak. 19As u dit goedvind, vaardig 'n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy. 20As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel.”

21Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goedgevind, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het 22en briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.

Ester word koningin

1Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.

2Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek. 3Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang, 4en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.”

Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak.

5In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. 6Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. 7Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem.

8Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. 9Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif. 10Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen. 11Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur.

12Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan. 13Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. 14Sy het in die aand in die paleis ingegaan en in die oggend is sy na die tweede stel vrouekwartiere toe onder die sorg van Saäsgas, die paleisbeampte wat oor die koning se byvrouens toesig gehou het. Sy kon nie weer na die koning toe gaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en sy geroep word.

15Ester was die dogter van Abigajil, 'n oom van Mordegai wat haar as sy dogter aangeneem het. Toe haar beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks meer gevra as wat Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, vir haar aanbeveel het nie. Sy het 'n goeie indruk gemaak op almal wat haar gesien het. 16Ester is na koning Ahasveros toe in die paleis geneem in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning. 17Die koning het meer van Ester gehou as van enigeen van die ander vrouens en hy was meer in sy skik met haar as met enige ander jongmeisie. Hy het toe die kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti. 18Die koning het toe 'n groot onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was, 'n onthaal ter ere van Ester. Hy het die verpligtinge van sy onderdane in al die provinsies verminder en geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid.

Mordegai red die koning se lewe

19In die tyd toe die jongmeisies daar bymekaar was, het nog iets gebeur: Mordegai het in die poort van die koning se paleis gesit, 20en Ester het in dié stadium nog nie haar afkoms en haar volksverband bekend gemaak nie, soos Mordegai haar beveel het; sy het Mordegai se opdrag uitgevoer soos toe sy nog onder sy sorg was. 21In dié tyd, terwyl Mordegai in die poort van die paleis gesit het, het Bigtan en Teres, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was, verbitter geraak en saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor. 22Mordegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel. Ester het dit toe namens Mordegai aan die koning vertel. 23Die saak is ondersoek en die berig is waar bevind, en die twee manne is aan 'n galg opgehang. Hierdie gebeurtenis is in die annale opgeteken in teenwoordigheid van die koning.

Haman wil al die Jode doodmaak

1'n Tyd daarna het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata die Agagiet vereer en hom bevorder. Hy het hom oor al sy ander amptenare aangestel. 2Op bevel van die koning moes al die dienaars van die koning wat in die poort van sy paleis was, kniel en aan Haman eer bewys. Mordegai het egter nie gekniel en aan hom eer bewys nie. 3Die dienaars van die koning wat in die poort van die paleis was, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die bevel van die koning?”

4Toe hulle dit dag vir dag vir hom vra, en hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle dit vir Haman vertel, want hulle wou kyk of Mordegai sou volhard in sy houding. Hy het hulle naamlik laat verstaan dat hy 'n Jood is. 5Toe Haman sien dat Mordegai nie kniel en aan hom eer bewys nie, was hy woedend. 6Hy het ook gehoor wat Mordegai se volksverband is, en dit was vir hom nie genoeg om vir Mordegai alleen dood te maak nie: Haman het na 'n manier gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei. 7In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is met die Pur, dit is met die lot, in die teenwoordigheid van Haman beslis om 'n geskikte datum te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar.

8Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie. 9As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee en veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas.”

10Toe haal die koning sy seëlring van sy vinger af en gee dit vir die vyand van die Jode, vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, 11en sê vir hom: “Die silwer kan jy maar hou en met die volk kan jy maak wat jy wil.”

12Op die dertiende van die eerste maand is die koning se skrywers ontbied en het hulle alles geskryf wat Haman die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk beveel het: aan elke provinsie in sy eie skrif en aan elke volk in sy eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en verseël met sy ring. 13Briewe is met boodskappers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag dat al die Jode voor die voet uitgeroei moet word, klein en groot, kind en vrou. Dit moes plaasvind op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Verder moes daar op hulle besittings beslag gelê word. 14Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees sodat hulle op dié bepaalde dag gereed kon wees. 15Die boodskappers het toe haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.

Mordegai en Ester span saam teen Haman

1Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hard en bitterlik gekerm. 2So het hy tot by die poort van die paleis gegaan. Niemand kon met rouklere aan by die poort ingaan nie.

3In al die provinsies waar die besluit en die proklamasie van die koning bekend geword het, was daar groot smart onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gekerm, en baie het rouklere aangetrek en in die as gaan lê.

4Toe koningin Ester se kamerpersoneel en haar paleisbeamptes haar van Mordegai kom vertel, was sy baie ontsteld. Sy het vir hom klere gestuur om aan te trek in die plek van sy rouklere, maar hy wou dit nie vat nie. 5Ester roep toe vir Hatak, een van die koning se paleisbeamptes wat in haar diens was, en beveel hom om na Mordegai toe te gaan en uit te vind wat aangaan en waarom hy so maak.

6Hatak het na Mordegai toe gegaan op die stadsplein voor die poort van die paleis. 7Mordegai het hom alles vertel wat gebeur het, selfs van die presiese hoeveelheid silwer wat Haman onderneem het om aan die skatkis van die koning te lewer as hy die Jode mag doodmaak. 8Hy het ook vir Hatak 'n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is en waarvolgens die Jode doodgemaak moes word. Hatak moes dit aan Ester wys, haar alles vertel en haar versoek om na die koning toe te gaan. Sy moes hom om genade smeek en vir haar volk intree.

9Hatak is toe terug na Ester toe en het Mordegai se woorde aan haar oorgedra.

10Sy het toe vir Hatak beveel om vir Mordegai te sê: 11“Al die amptenare van die koning en die mense in die provinsies van die koning weet dat daar net een wet is vir enigeen, man of vrou, wat na die koning toe in die binneste voorhof gaan as hy nie ontbied is nie: hy word sonder meer doodgemaak. Die enigste uitsondering is dat die koning sy goue septer na so 'n persoon toe uitsteek; dan bly hy lewe. En dit is nou al dertig dae dat ek nie na die koning toe ontbied is nie.”

12Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, 13en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. 14As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”

15Ester het toe vir Mordegai laat weet: 16“Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”

17Mordegai is toe weg en het alles gedoen wat Ester hom beveel het.

1Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die ontvangsaal van die koning. Die koning was op die troon in die ontvangsaal regoor die ingang. 2Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. 3Die koning sê toe vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.”

4Toe sê Ester: “As u dit goedvind, kom dan vandag saam met Haman na 'n maaltyd toe wat ek vir u voorberei het.”

5Die koning beveel toe: “Bring gou vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.”

Die koning en Haman is toe na die maaltyd toe wat Ester voorberei het. 6Terwyl hulle wyn drink, vra die koning vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.”

7Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg: 8as die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak.”

9Haman het dié dag bly en opgeruimd weggegaan, maar toe hy vir Mordegai in die poort van die paleis sien sit, en Mordegai staan weer nie op om aan hom eer te bewys nie, was hy woedend vir Mordegai. 10Haman het egter sy humeur beteuel en huis toe gegaan. Toe het hy sy vriende en sy vrou Seres laat haal 11en by hulle gespog oor sy groot rykdom en sy baie seuns, oor al die maniere waarop die koning hom vereer het en oor hoe die koning hom bevorder het bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning. 12Verder het Haman gesê: “En dit is nie al nie, koningin Ester het selfs niemand behalwe vir my saam met die koning uitgenooi na die maaltyd wat sy voorberei het nie. Ek is ook vir môre saam met die koning deur haar uitgenooi. 13En tog bevredig dit alles my nie so lank ek die Jood Mordegai in die poort van die paleis sien sit nie.”

14Toe sê sy vrou Seres en al sy vriende: “Laat 'n galg van drie en twintig meter hoog bou en beveel môre by die koning aan dat hulle vir Mordegai daaraan moet ophang. Dan kan jy saam met die koning na die maaltyd toe gaan sonder dat iets jou hinder.”

Haman het dit 'n goeie voorstel gevind en hy het die galg laat bou.

Die koning vereer vir Mordegai

1Daardie nag kon die koning nie slaap nie en het hy opdrag gegee dat die annale gebring en aan hom voorgelees moet word. 2Daarin is toe opgeteken gevind dat dit Mordegai was wat vir Bigtan en Teres ontmasker het, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was en wat saamgesweer het om koning Ahasveros te vermoor. 3Toe vra die koning: “Watter eerbewys en erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?”

Die kamerpersoneel van die koning het geantwoord: “Hy het niks ontvang nie.”

4Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?”

Net toe kom Haman aan in die buitenste voorhof van die paleis om by die koning aan te beveel dat Mordegai opgehang moet word aan die galg wat Haman vir hom opgerig het. 5Die dienaars van die koning sê toe vir hom: “Haman staan in die voorhof.”

Toe sê die koning: “Laat hy inkom!”

6Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?”

Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?

7Toe antwoord hy die koning: “Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word: 8daar moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en 'n perd waarop die koning self gery het, 'n perd met die koninklike embleem op sy kop. 9Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”

10Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”

11Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”

12Daarna is Mordegai terug na die poort van die paleis toe, maar Haman is haastig huis toe, ontnugter en skaam. 13Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe: “As dit so is dat Mordegai, voor wie jy hierdie eerste vernedering ondergaan het, tot die Joodse volk behoort, sal jy nie kan standhou voor hom nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”

14Terwyl hulle nog met hom praat, kom die paleisbeamptes van die koning en neem vir Haman vinnig na die onthaal toe wat Ester voorberei het.

Haman word om die lewe gebring

1Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. 2Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.”

3Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. 4Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

5Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” 6en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.”

Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin. 7Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het. 8Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?”

Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek. 9Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis 'n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.”

Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!”

10Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die woede van die koning bedaar.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS