Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 132

Sefanja 1–3, Psalms 9 & 11, Spreuke 11

Bybelteks(te)

1Die woord van die Here wat gekom het tot Sefanja seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia. Dit het gebeur in die regeringstyd van koning Josia van Juda, seun van Amon.

Ek gaan 'n einde maak aan alles op aarde

2Ek gaan 'n einde maak aan alles op aarde, sê die Here,

3Ek gaan 'n einde maak aan mens en dier,

aan voëls en visse,

Ek gaan 'n einde maak aan dié wat mense laat struikel het,

en aan die goddeloses;

Ek gaan die mense van die aarde af uitroei, sê die Here.

4Ek gaan my hand uitsteek teen Juda

en teen al die inwoners van Jerusalem,

Ek gaan uit hierdie plek uitroei

wat daar nog van Baäl oor is:

die naam van die afgodspriesters, van alle priesters:

5dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid,

dié wat die Here aanbid

en aan Hom trou sweer

maar terselfdertyd ook aan Milkom,

6dié wat die rug vir die Here draai,

na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.

Die dag van die Here is naby

7Wag in stilte op die Here God!

Die dag van die Here is naby!

Hy het 'n maaltyd voorberei,

en dié wat Hy genooi het, gewy.

8Op die dag van die maaltyd sal Ek, die Here,

die amptenare en die prinse straf,

almal wat uitlandse klere dra.

9Daardie dag sal Ek almal straf

wat uit bygeloof nie eens op 'n drumpel trap nie

en wat die huis van hulle Koning

met geweld en bedrog vul.

10Daardie dag, sê die Here,

sal daar noodkrete klink uit die Vispoort uit,

gehuil uit die tweede stadswyk,

harde smartkrete van die heuwels af.

11Huil, inwoners van die Vysel,

want al die handelaars word uitgedelg,

almal wat geld afweeg, word uitgeroei.

12Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek

en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink:

die Here doen nie goed óf kwaad nie.

13Hulle besittings sal geplunder word,

hulle huise verwoes word.

Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie,

wingerde plant, maar nie die wyn drink nie.

14Die groot dag van die Here is naby,

baie naby, dit kom gou.

Luister hoe bitter, hoe skril klink

die geskreeu van die soldate dié dag!

15Dié dag is 'n dag van toorn,

'n dag van nood en benoudheid,

'n dag van storms en verwoesting,

'n dag van donkerte, van duisternis,

'n dag van wolke, van swaar onweer,

16'n dag waarop die ramshoring sal blaas

en die krygsgeskreeu sal klink

teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings.

17Ek laat angs die mense pak

sodat hulle soos blindes loop,

want hulle het teen My gesondig.

Hulle bloed sal vergiet word

asof dit so min werd is as stof,

asof hulle liggame

niks meer as uitwerpsel is nie.

18Nóg hulle silwer nóg hulle goud

sal hulle kan red op die dag

wanneer die toorn van die Here losbreek,

wanneer die hele land verteer word

deur die vuur van sy woede.

Hy bring vernietiging en skrik

oor al die inwoners van die land.

1Ruk julle reg, onbeskaamde nasie,

2voordat die besluit voltrek word,

voordat die dag kom en julle soos kaf word

voor die gloed van die toorn van die Here,

voordat die dag van die toorn van die Here oor julle kom.

3Vra na die wil van die Here,

alle nederiges in die land,

almal wat doen wat die Here wil.

Streef na geregtigheid, na nederigheid!

Miskien bly julle die straf gespaar

op die dag van die toorn van die Here.

Ellende wag vir dié wat aan die kus woon

4Gasa sal verlate lê,

Askelon sal geen inwoners hê nie,

Asdod sal helder oordag ontvolk word,

Ekron sal verwoes word.

5Ellende wag vir dié wat aan die kus woon,

dié wat van Kreta af kom!

Die woord van die Here is teen julle:

Ek gaan jou, Kanaän, Filistyneland, so vernietig

dat daar niemand in jou woon nie:

6die kusstreek sal net 'n weiveld wees

waar wagters vee laat wei,

'n plek vir kleinveekrale.

7Die kusstreek sal die eiendom word

van wat daar oor is van Juda:

húlle is die kudde wat daar sal wei

en snags in die huise van Askelon sal slaap,

want die Here hulle God sal Hom oor hulle ontferm

en hulle lot verander.

Die Here moet deur almal gevrees word

8Ek het gehoor hoe Moab my volk verkleineer het,

hoe die Ammoniete hom met minagting behandel het,

hoe aanmatigend hulle was teenoor my volk se grondgebied.

9So seker as Ek leef, sê die Here die Almagtige,

die God van Israel:

Moab sal soos Sodom word

en die Ammoniete soos Gomorra:

'n veld vol dorings en soutpanne,

vir altyd verlate.

Dié lande sal buit word vir wat daar oor is van my volk;

dié wat oorgebly het van die nasie wat aan My behoort,

sal hulle in besit neem.

10Dit gebeur met Moab en die Ammoniete

omdat hulle so hooghartig was,

omdat hulle die volk van die Here die Almagtige

verkleineer het en aanmatigend was teen die volk.

11Ontsagwekkend is die Here bo almal.

Hy laat al die gode op die aarde wegteer sonder offers,

en al die kuslande van die nasies buig voor Hom,

elkeen op sy eie plek.

12Ook julle, Kussiete,

word deur die swaard van die Here afgemaai.

13Daarna steek Hy sy hand uit teen die noorde

en maak Hy 'n einde aan Assirië:

Hy maak Nineve 'n stad sonder inwoners,

'n droë weiveld.

14Kuddes vee sal daar lê en herkou,

allerlei troppe diere.

Pelikane en uile sal op die stad se mooi pilare slaap,

die wind sal deur die vensters huil.

Die verwoesting sal selfs die drumpels tref,

want die sederhout sal afgestroop word.

15Dit is wat sal word van die uitgelate stad

wat so onbesorg daar lê,

wat dink: daar is nie nog 'n stad soos ek nie.

Hy gaan verwoes word, 'n lêplek vir diere.

Elkeen wat daar verbykom, sal fluit van verbasing

en sy hande saamslaan.

Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie

1Ellende wag vir Jerusalem,

die opstandige, besoedelde stad

waarin daar soveel verdrukking is.

2Hy is ongehoorsaam

en wil hom nie laat teregwys nie,

hy vertrou nie op die Here nie

en dien nie sy God nie.

3Die amptenare in die stad is brullende leeus;

sy regters is wolwe wat snags aas soek

en tot die môre toe nie genoeg kry om aan te knaag nie;

4sy profete is roekelose, trouelose mense;

sy priesters ontwy wat gewyd is

en doen die wet van die Here geweld aan.

5In dié stad is die Here die regverdige,

net Hy doen nie onreg nie.

Hy gee môre vir môre sy beslissing;

sy beslissing bly nie een dag uit nie

en tog ken dié wat onreg doen, geen skaamte nie.

6Ek het nasies uitgeroei,

hulle vestings is vernietig.

Ek het hulle paaie verlate gemaak,

sonder iemand wat daar loop.

Hulle stede is verwoes, daar is niemand nie,

nie een inwoner nie.

7Ek het gedink Jerusalem sal nou vir My ontsag hê

en hom laat teregwys,

sodat sy woonplek nie vernietig word

en al my straf hom tref nie.

Maar hy het gretig bly sondig

met alles wat hy doen.

8Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here,

wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat.

Ek het besluit om nasies bymekaar te maak,

koninkryke saam te roep

en op hulle my gramskap uit te stort,

die volle gloed van my toorn:

die hele aarde sal verteer word

in die vuur van my woede.

9Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak,

sodat hulle almal My sal aanroep

en soos een man My sal dien.

10Van anderkant die riviere van Kus af

sal dié wat My vereer, my verstrooide volk,

vir My geskenke bring.

11Daardie dag sal jy nie meer rede hê om jou te skaam

dat jy opstandig teen My was met alles wat jy gedoen het nie,

want Ek gaan uit jou uithaal

dié wat hulle so verheug het in jou hovaardigheid;

jy sal nie meer vol hoogmoed wees

daar op my heilige berg nie.

12Ek sal in jou laat oorbly net dié

wat nederig en ootmoedig is

en vertrou op die Naam van die Here.

13Dié wat van Israel oorgebly het,

sal nie onreg doen nie

en nie lieg nie;

daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie.

Hulle sal 'n kudde wees wat wei en gaan lê en rus

sonder dat iemand hulle skrikmaak.

Ek gee aan julle roem en eer

14Sing, Sion! Juig, Israel!

Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!

15Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf,

Hy het jou vyande laat padgee.

Die Koning van Israel, die Here, is by jou;

jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

16Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word:

Moenie bang wees nie, Sion,

moenie jou hande moedeloos laat hang nie!

17Die Here jou God is by jou,

Hy, die krygsman wat red.

Hy is vol vreugde oor jou,

Hy is stil-tevrede in sy liefde.

Hy jubel en juig oor jou:

18Ek maak dié bymekaar wat treur,

ver van die feestelikheid af,

dié wat uit jou uit kom

en ter wille van jou die smaad gedra het.

19Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,

Ek gaan die kreupeles help,

die verstrooides bymekaarmaak

en die vernedering wat hulle moes ondergaan,

in eer verander, in roem oor die hele aarde.

20Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom,

maak Ek julle bymekaar

en gee Ek aan julle roem en eer

onder al die volke op aarde;

dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,

julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.

Die Here red die hulpelose

1Vir die koorleier: op die wysie van “By die dood van die seun”. 'n Psalm van Dawid.

2Met my hele hart wil ek U prys, Here,

wil ek van u magtige reddingsdade vertel.

3Oor U wil ek my verbly en vrolik wees,

u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.

4Toe U verskyn het, het my vyande gevlug,

hulle het gestruikel en omgekom.

5Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter,

het U aan my reg laat geskied.

6U het die nasies met vernietiging gedreig,

die skuldiges laat omkom,

hulle naam vir altyd uitgewis.

7Dit is klaar met die vyand,

daar bly net puinhope oor.

U het hulle stede verwoes,

niemand dink eers meer aan hulle nie.

8Die Here is altyd op sy troon;

op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir die regspraak.

9Hy lewer 'n regverdige uitspraak oor alle mense,

Hy vel 'n billike vonnis oor die nasies.

10Vir die mens wat in gevaar verkeer,

is die Here 'n toevlug,

'n skuilplek in tye van nood.

11Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U,

want U, Here,

laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.

12Sing tot eer van die Here wat op Sion woon,

vertel die volke van sy dade!

13Hy dink aan die onskuldiges

en wreek hulle dood,

Hy verontagsaam nie die geroep

van dié wat in nood verkeer nie.

14Wees my genadig, Here,

aanskou die ellende wat my haters my aangedoen het,

U wat my terugruk uit die poorte van die dood.

15Dan kan ek van al u roemryke dade vertel,

in die poorte van Sion kan ek juig

oor die uitkoms wat U gegee het.

16Die nasies het in die gat geval

wat hulle gegrawe het,

hulle voete is vasgevang in die net

wat hulle gespan het.

17So het die Here Hom bekend gemaak,

Hy het reg laat geskied,

en die skuldige is deur sy eie handewerk gevang. Higgajon Sela

18Die doderyk is die bestemming van die skuldiges,

van al die nasies wat aan God nie dink nie.

19Waarlik, die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie,

nie vir ewig sal die verwagting van dié wat in nood is, vrugteloos wees nie.

20Gryp tog in, Here,

sodat die mens hom nie verhef nie.

Laat die nasies voor U teregstaan.

21Vervul hulle so met vrees, Here,

dat hulle erken dat hulle net mense is. Sela

Ek skuil by die Here

1Vir die koorleier. Van Dawid.

Ek skuil by die Here.

Hoe durf julle vir my sê:

“Vlug na die berge toe soos 'n voël!

2Kyk, die goddeloses span hulle boë,

en hulle lê aan met die pyl op die snaar;

hulle staan reg om uit die donker

die opregtes van hart te tref.

3As die fondamente ondermyn word,

wat kan die regverdige daaraan doen?”

4Die Here is in sy heilige tempel!

Die Here is op sy troon in die hemel!

Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.

5Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.

Wie geweld liefhet, haat Hy.

6Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,

'n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink.

7Die Here is regverdig.

Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,

en Hy sal by hulle wees.

1Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie;

net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.

2Selfverheffing bring vernedering;

wie nederig is, het wysheid.

3Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers;

die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.

4Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie;

om te lewe volgens sy wil, red van die dood.

5Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk;

wie verkeerd doen, kom daardeur tot 'n val.

6Die betroubaarheid van eerlike mense red hulle;

onbetroubare mense word deur hulle hebsug gevang.

7Wanneer 'n slegte mens sterf, verdwyn alle hoop,

selfs die verwagting wat op mag gebou is.

8Die regverdige word uit sy nood bevry,

en dié nood tref die goddelose.

9'n Godlose mens laat 'n ander te gronde gaan met wat hy sê;

mense wat aan God gehoorsaam is,

word deur hulle kennis gered.

10'n Stad juig oor die voorspoed van regverdiges

en jubel wanneer die goddeloses te gronde gaan.

11'n Stad kry 'n goeie naam

wanneer opregte mense dit prys,

maar dit word afgebreek

deur wat goddelose mense daarvan sê.

12'n Onverstandige mens praat met minagting van 'n ander;

'n verstandige mens swyg.

13Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit;

'n betroubare mens bewaar 'n geheim.

14Sonder oorwoë leiding val 'n volk;

die redding lê in baie raadgewers.

15Dit gaan sleg met hom wat vir iemand borg staan;

die man wat weier om borg te staan, is veilig.

16'n Deugsame vrou is gesteld op haar goeie naam;

mense wat niks ontsien nie, is gesteld op rykdom.

17'n Mens wat iets vir 'n ander oor het, baat self daarby;

'n hartelose mens word deur sy eie toedoen verstoot.

18Die wins wat 'n slegte mens maak, hou nie;

wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning.

19Die lewe lê voor vir wie by die reg bly,

die dood wag vir wie aanhou kwaad doen.

20Die Here verafsku mense wat nie opreg is nie;

Hy hou van mense wat onberispelik lewe.

21Dit staan vas: 'n slegte mens sal nie loskom nie,

maar selfs die nageslag van die regverdiges sal vrygespreek word.

22Die skoonheid van 'n vrou sonder oordeel

is soos 'n goue ring aan 'n vark se snoet.

23Die regverdiges begeer die goeie;

vir die goddeloses wag daar net straf.

24Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het,

daar is ander wat suinig is en tog arm word.

25Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.

Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.

26Mense vervloek iemand wat weier om koring te verkoop

en hulle seën iemand wat gewillig is om te verkoop.

27Wie die goeie nastreef, kan goedkeuring verwag;

wie op die kwaad uit is, kry dit.

28Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot 'n val;

wie reg doen, floreer soos groen blare aan 'n boom.

29Wie sy huishouding verwaarloos,

sal naderhand net wind oor hê;

'n onverstandige mens word die slaaf

van dié een wat wysheid het.

30Wie die wil van die Here doen, is 'n bron van lewe;

die mens wat wysheid het, red lewens.

31Die regverdige kry hier op aarde wat hom toekom;

net so seker die goddelose en die sondaar.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS