Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 6

Leef gelukkig vandag … in God se beskerming

Bybelteks(te)

1 PETRUS 5

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

1 PETRUS 5:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 4

7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.

PSALMS 91

4Hy beskut jou onder sy vleuels

en is vir jou 'n veilige skuilplek.

Sy trou beskerm jou aan alle kante.

Ek ontvang gereeld e-posse van lesers wat getuig van vrees wat hulle verlam – vrees om alleen oud te word, dat iets met hulle geliefdes sal gebeur, om nie met hulle maandelikse inkomste uit te kom nie, om deur ʼn egskeiding te gaan of om deur inbrekers aangeval te word. Wat is jou vrees vandag?

ʼn Amerikaanse gesin het ʼn paar jaar gelede die Oregon Dieretuin in Portland, VSA besoek en ʼn videogreep van hul seuntjie, Jack, geneem.

In die videogreep sit Jack, wat toe ongeveer een jaar oud was, rustig en speel voor ʼn veiligheidsglas. Agter hom probeer Kya, een van die leeus in die dieretuin, met al haar mag deur die veiligheidsglas breek om die kind te verslind. Al sien ons met tye Kya se slagtande, is dit vir haar eenvoudig onmoontlik om by Jack uit te kom omdat die veiligheidsglas te dik is.

In 1 Petrus 5:8 lees ons dat die duiwel, net soos Kya in die dieretuin, soos ʼn brullende leeu rondloop op soek na areas in ons lewens om aan te val. Hy weet wat ons sensitiewe areas is, en hy probeer ons met vrees in daardie areas aanval. Hoekom? Omdat die duiwel weet dat vrees ons vreugde steel en ons van ons geloof in God beroof.

Hoe kan ons die vyand teenstaan? In Jakobus 4:7 lees ons: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” Hoe onderwerp ons ons aan God? Ons herinner onsself aan wie God is en wat Hy kan doen. Só word ons geloof in Hom sterker, terwyl die houvas van vrees op ons lewens verslap word. Hoe staan ons die vyand teë? Ons herinner hom aan God se beloftes – net soos Jesus in die woestyn gedoen het toe die vyand Hom aangeval het. Wanneer ons hierdie twee beginsels in ons lewens toepas, sal ons beleef hoe die vyand se houvas van vrees op ons lewens verslap omdat hy van ons af wegvlug.

In Psalm 91:4 skryf die psalmdigter: “Die Here sal jou beskerm soos ʼn hen haar kuikens onder haar vlerke beskerm, Hy bly dieselfde, Hy sal vir jou wees soos ʼn skild, soos ʼn sterk muur om ʼn stad.”

Kom ons kies vandag om weg te kyk van ons vrese en onsself te herinner aan wie God is. Hy is die Almagtige Skepper van die heelal vir wie niks onmoontlik is nie. Hy het in elke situasie die laaste sê. En wanneer Hy ʼn veiligheidsglas rondom ons plaas, kan geen vyand ooit daardeur breek nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS