Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Leef gelukkig … vandag – dag 5

Leef gelukkig … want Hy doen steeds wonderwerke!

Bybelteks(te)

JAKOBUS 5

16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.

JAKOBUS 5:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Agtergrond: Wanneer ons kies om ons geloof in God te plaas in die moeilikste tye van ons lewens, mag ons dalk net wonderwerke reg onder ons neuse beleef. Hier is drie lesers wat daarvan kan getuig.]

Leser 1: Johan: “Op ʼn dag ʼn paar jaar gelede was ek met my motorfiets op pad na ʼn vriendin se huis in Pretoria. Sowat 3 km van haar huis af, het ʼn vrou in ʼn dubbelkajuitbakkie oor ʼn stopstraat gejaag en ek en my motorfiets het in die slag gebly. In die oomblik van impak het ek my bewussyn verloor.

By die hospitaal is ek na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. My een long het platgeval en ek is aan ʼn ventilator gekoppel. Die volgende dag het die ortopediese chirurg en internis hulle bes probeer om my gebroke liggaam in die teater te herstel, maar die kanse dat ek sou oorleef, was skraal. Die dokters het my ouers vir die ergste voorberei.

Van oraloor het mense wat ek ken, asook mense wat ek glad nie geken het nie, vir my begin bid. E-posse het ingestroom en lede van ʼn Christelike motorfietsryersklub in Pretoria het my kom besoek en vir my gebid. Hoewel ek nie bewus was van wat rondom my gebeur nie, weet ek vandag: God het hulle gebede gehoor en my in sy hande vasgehou.

Veertien dae na die ongeluk is ek uit die intensiewesorgeenheid ontslaan. Twee en ʼn half weke later kon ek huis toe gaan, en drie weke na die ongeluk was ek terug op kantoor. Dit was ʼn wonderwerk!

Tydens my opvolgbesoeke aan die chirurg en internis het beide my verseker dat my genesing nie van mense af gekom het nie, maar direk van God. Hulle kon dit nie verklaar nie.

Vandag, jare later, kan ek steeds nie ophou om van God se krag te getuig nie. Voor die ongeluk was ek besig om van Hom af weg te dryf, maar Hy het my teruggeroep en my gehelp om met groter dankbaarheid na dinge rondom my te kyk. Moet nooit ophou bid nie. Daar is krag in gebed!”

Leser 2, André: “Een Saterdagoggend het ons African Grey-papegaai weggevlieg. Ek was onmiddellik kwaad vir my vrou en kinders aangesien ek hulle vir ʼn maand lank gevra het om die papegaai se vlerke te laat knip. Die papegaai was ʼn geskenk van my dogter vier jaar vantevore en daarom ná aan my hart.

Ons het die hele Saterdag na die papegaai gesoek – sonder sukses. Ons het selfs die plaaslike radiostasie gevra om uit te saai dat ons na ons African Grey soek. Teen die aand het ek en my vrou saam Bybel gelees en daarna apart gebid. In my hart het ek geweet dat ons albei vir God dieselfde vra: ‘Here, laat ons asseblief die papegaai terugkry sodat vrede in die huis herstel kan word.’

Drie dae later het ons ʼn oproep gekry van ʼn dame wat sowat ʼn kilometer van ons huis af woon. Sy het ons papegaai gekry en aan ons terugbesorg. God het ingegryp en ʼn wonderwerk gedoen! Daar is waarlik krag in gebed.”

Leser 3, Cornelia: “My oudste seun is met ʼn gesplete verhemelte gebore. Toe die dokter die nuus aan my oordra was ek platgeslaan. Ek was nie eens seker wat dit presies behels nie. My kind is na ʼn ander hospitaal oorgeplaas en vir ʼn maand lank het die verpleegpersoneel probeer om hom sover te kry om iets te drink. Dag na dag het ek in die gang gesit en vir my kind gebid.

Een spesifieke dag was ek op moedverloor se vlakte. Ek het net daar in die gang besluit om God te vra om alles in sy hande oor te neem. Ek kon nie meer nie. Op daardie oomblik het die verpleegster my kom roep met die nuus: My seun het uit die bottel begin drink!

Drie dae later is my seun ontslaan en kon ons huis toe gaan. Jare later kan ek God steeds nie genoeg dank vir die wonderwerk in my diepste nood nie!”

Johan, André en Cornelia is reg. Daar is krag in gebed. Luister maar na die woorde in Jakobus 5:16: “Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag.” Of jy dus vir genesing, ʼn deurbraak of ʼn verlore papegaai bid, weet vir seker dat God die onmoontlike moontlik kan maak. Al wat ons moet doen, is om Hom daarvoor te vertrou. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS