Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 7

Die goue reël

Bybelteks(te)

MATTEUS 7

12“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

MATTEUS 7:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tot en met die tyd van Jesus het Sokrates en ander groot filosowe en denkers van die tyd etiese gedrag soos volg opgesom: Moet nie aan ander doen wat julle nie wil hê hulle moet aan julle doen nie. Dit is ʼn negatiewe stelling; dit fokus op wat jy nie moet doen nie. As jy nie wil hê iemand moet jou seermaak nie, moet jy hom nie seermaak nie. As jy nie wil hê iemand moet vir jou leuens vertel nie, moet jy nie vir hom leuens vertel nie. Dit klink goed, of hoe? Daar is ʼn probleem met hierdie soort filosofie want dit laat jou toe om jou van ʼn saak of probleem te onttrek. As dit die barmhartige Samaritaan, na wie ons gister verwys het, se filosofie was, kon hy maar sy skouers opgetrek het en verby die gewonde man gestap het. Hy kon gesê het: “Die man is nie my verantwoordelikheid nie. Ek het hom nie beroof nie. Ek het hom nie seergemaak nie. Dit is nie my probleem nie.”

Maar dan kom Jesus en in Matteus 7:12 maak hy die mees revolusionêre, etiese stelling oor hoe ons ons lewens elke dag moet leef: “Alles wat julle wil hê die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” Daar is ʼn reuseverskil tussen hierdie positiewe stelling en die negatiewe stelling “moet nie aan ander doen wat julle nie wil hê hulle moet aan julle doen nie”. Die positiewe stelling laat ons nie toe om te onttrek nie, maar dit maak ons proaktief. As jy daaroor dink, sal jy ander behandel op ʼn manier wat jy wil hê hulle jou moet behandel.

Stel jou voor hoe die wêreld sal verander as mense hierdie woorde van Jesus uitleef. Selfsug en selfbelang sal iets van die verlede wees. Almal sal dienaars wees. Maar helaas … ons lewe in ʼn wêreld wat ons leer om na ons eie belange om te sien, om soveel moontlik te neem en so min as moontlik te gee. Ons lewe in ʼn wêreld wat ons leer “wat myne is, is myne”. Die hart van ʼn dienaar leer ons egter: “Wat myne is, behoort aan die Here en ek sal dit deel.”

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS