Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 6

Om die hart van ʼn dienskneg te ontwikkel

Bybelteks(te)

LUKAS 10

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.

LUKAS 10:30-33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het reeds diensbaarheid en wat dit beteken om ʼn dienaar van God te wees bespreek. Hierdie bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan is ʼn uitstekende voorbeeld van iemand wat die hart van ʼn dienskneg het. Hoekom het hierdie Samaritaan, ten spyte van die moontlike risiko wat dit vir hom ingehou het, by die gewonde man gestop en hom versorg? Hy kon ook maar net verby gestap het en niemand sou eers geweet het of minder van hom gedink het nie. Ek dink op die ou einde was daar net een rede: hy het die hart van ʼn dienaar en ʼn hart vol deernis gehad. Jesus sê hy het die man wat geslaan was innig jammer gekry. Die Samaritaan het medelye gehad met die man wat daar halfdood gelê het en dit het hom tot aksie gedwing.

Ons het ook reeds na beskikbaarheid as een van die sleutels tot diensbaarheid verwys. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat die Samaritaan nie beplan het om langs die pad by die gewonde man te stop nie. Dit was nie deel van sy beplanning vir sy dag nie. Hy het ʼn behoefte raakgesien en homself beskikbaar gestel. Hy het aangegaan met sy daaglikse take, maar was tog op die uitkyk vir ʼn geleentheid om te dien.

Daar kom elke dag eenvoudige, klein geleenthede om te dien oor ons pad, maar die meeste van die tyd stel ons onsself nie beskikbaar nie. Die Here werk nie volgens ons dagbeplanner nie. Die afsprake in jou dagboek en op jou selfoon kom selde ooreen met die afsprake wat Hy vir ons maak. Die Here kan ons net gebruik as ons gewillig is om ons beskikbaar te stel om te dien en ook as ons die behoeftes van ander raaksien.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS