Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 5

Josua beskikbaar om te dien

Bybelteks(te)

JOSUA 1

Die opdrag aan Josua

1Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: 2“Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.

In die Ou Testament is Josua ʼn wonderlike voorbeeld van ʼn dienaar van God wat ongelooflike dinge bereik het. Hy het God se doel, beide vir hom en vir die volk Israel, vervul. Sy militêre prestasies en geestelike suksesse was bewonderenswaardig. Hoekom het die Here Josua op hierdie manier gebruik? Wat was so spesiaal aan hom?

Bo alles was Josua ʼn dienskneg van God. Lank voordat die Here hom geroep het om Israel te lei, was hy reeds gereed, gewillig en in staat om God se volk te dien. Reeds in Eksodus 17 lees ons dat Moses, toe die Amalekiete teen Israel kom veg het terwyl Israel nog op pad na die beloofde land was, vir Josua gevra het om die manskappe bymekaar te kry om te gaan veg. Hoekom was Josua Moses se keuse as militêre leier? Josua se ywer en toewyding aan die werk van die Here was ongetwyfeld een van die beslissende faktore. Josua het dan ook die taak wat aan hom toevertrou is suksesvol voltooi.

Josua se gewilligheid om die werk van die Here te doen, is ʼn teken van sy diensbare hart. Diensbaarheid beteken nie dat jy moet sit en wag dat ʼn taak aan jou toevertrou word nie, maar dat jy moet doen wat jy kan vir die Here waar jy jou ook al bevind. Dit beteken dat jy aktief en met ywer en toewyding die werk van die Here moet doen. Dit beteken dat jy beskikbaar moet wees vir enigiets wat die Here jou vra om te doen.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS