Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 19

Vrug van die Gees 4: Geduld

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

GALASIËRS 5:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 1

Geloof en wysheid

2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

JAKOBUS 1:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Bybel 1933/53-vertaling gebruik die woord “lankmoedigheid” in stede van “geduld” om hierdie aspek van die vrug van die Gees te vertaal. Alhoewel dit ʼn woord is wat miskien in onbruik is, gee dit tog die idee dat ons hier na iets verwys wat meer is as net die vermoë om te wag of iemand of iets te verdra sonder om kwaad te word. Dit waarvan Paulus en Jakobus praat verwys na volharding, standvastigheid, die vermoë om beproewings en vervolging te deurstaan, en om dit te doen met hoop asook om moegheid en nederlae te weerstaan. Dit beskryf ʼn persoon wat, ten spyte van die feit dat hy oor die vermoë beskik om wraak te kan neem, selfbeheersing uitoefen.

Ons het elke dag met mense te doen – hetsy persoonlik, oor die telefoon, deur e-posse of aanlyn. Dikwels maak hierdie mense ons seer deur hulle aksies of woorde. Mense beledig ons of beskuldig ons van dinge wat ons nie gedoen het nie en ons bevind onsself in die middel van argumente of meningsverskille. Wanneer iemand iets sê waarvan ek nie hou nie of nie mee saamstem nie, is dit baie maklik om kwaad of geïrriteerd te word. Ek wil teen die persoon uitvaar en ek wil die argument wen. Ek wil die finale sê hê.

Maar met al ons interaksie met ander moet ons geduld hê. Ons moet nie teen mense uitvaar en kwaad word nie. Ons moet geduld met mense hê, ook wanneer ons ons in moeilike omstandighede bevind. Ons beleef dinge in die lewe wat ons nie verstaan nie en ons word kwaad en kla. Maar geduld is nie om te kla en kwaad te word nie, dit is die teenoorgestelde. Dit wat jy nie moet doen nie, is om te kla. Geduld is om ʼn moeilike, pynlike situasie te beleef sonder om daaroor te kla.

As Christene is dit nie ons taak om te reageer of kwaad te word en uit te vaar teenoor ʼn persoon wat ons seergemaak het of ons verkeerd behandel het nie. Die Here sal dit hanteer. Ons taak is om onsself met ander te versoen. Ons moet die pyn en al die moeilike omstandighede in ons lewens vir Hom gee.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS