Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 18

Vrug van die Gees 3: Vrede

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

GALASIËRS 5:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

JOHANNES 14:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Was jy al ooit in ʼn lang, uitgerekte argument met iemand betrokke totdat julle uiteindelik beide besluit het om, alhoewel julle steeds van mening verskil, die argument eerder te staak? En toe, nadat julle saam besluit het om te “agree to disagree” (soos die Engelse sê), vat die argument weer vlam en die vyandigheid is erger as ooit tevore.

Ware vrede is nie net om konflik te vermy nie. Net soos ware vreugde nie swaarkry en lyding uitsluit nie, beteken vrede nie die afwesigheid van konflik nie, maar die teenwoordigheid van God in die konflik. Ware vrede is eenheid met God wat net aan die voet van die kruis gevind kan word. Daar word na Jesus verwys as die Prins van vrede, en soos ons in Johannes 14 lees, gee Hy vrede in die harte van diegene wat daarna verlang.

Vrede is die gevolg van ʼn verhouding met God en ʼn staat van kalmte en rus wat ons net uit ons verhouding met God kan kry. Vrede is die teenoorgestelde van chaos en ʼn kalm versekering dat die Here in beheer van jou lewe is en dat Hy voortdurend besig is om sy doel met jou lewe te bereik. Hierdie vrede is verbind met ware vreugde. Die Here ken jou onvervulde begeertes, jou drome, jou teleurstellings, en jou nederlae. Te midde van al hierdie uitdagings kan Hy vrede gee en Hy wil dit vandag vir jou gee.

Net nadat ons vrede met God gemaak het deur sy Seun Jesus aan te neem, kan ons ware vrede ondervind. Ons benodig hierdie vrede wanneer ons moeilike en onseker tye beleef of wanneer ons nie seker is hoe om ʼn situasie te hanteer nie – ons benodig hierdie vrede elke dag. Solank as wat ons op Jesus fokus, sal hierdie vrede aan ons gegee word wanneer ons dit nodig het.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS