Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 17

Vrug van die Gees 2: Vreugde

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

GALASIËRS 5:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 TESSALONISENSE 1

6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

1 TESSALONISENSE 1:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 5

3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;

ROMEINE 5:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

“En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ʼn blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tessalonisense 1:6)

Ons wil almal gelukkig wees. Ons hou van dinge wat ons laat lag en wat ons goed oor onsself laat voel. Ons is gelukkig wanneer ons dag goed verloop of wanneer ons met vakansie gaan of ons rugbyspan op die wenpad is. Daar is niks daarmee verkeerd nie, maar dit is nie waarna Paulus in die teksvers verwys nie. In werklikheid het Jesus ons nooit beloof dat dit ons gelukkig sal maak om ʼn Christen te wees nie, maar wel dat dit vir ons ware vreugde sal bring. So wat is die verskil?

Die Griekse woord vir “vreugde” is kevo, afgelei van die woord charis, wat die Griekse woord vir “genade” is. Dit beteken dat hierdie vreugde nie mensgemaakte geluk is nie en dat dit, afhangende van omstandighede, nie kom en gaan nie. Vreugde kom van die Gees en dit floreer in moeilike tye. Vandag se teksvers vertel van die Tessalonisense wat te midde van vervolging steeds blydskap beleef het wat van die Gees kom. Indien ons verstaan hoe God ons beproewings gebruik om ons geloof en karakter te bou, het ons ook rede tot blydskap. Lees wat skryf Paulus in Romeine 5:3-4: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop”.

Hierdie tipe vreugde beteken nie dat ons noodwendig altyd van oor tot oor moet glimlag nie. Daar is tye wat ons niks het om oor te glimlag nie. Soms gee ons voor dat ons gelukkig is en dat alles reg is terwyl dit nie waar is nie. Maar, ware vreugde is nie om ʼn “masker van geluk” te dra nie. Ware vreugde beteken dat ons die blydskap wat in ons is moet uitleef, die vreugde wat ons het omdat ons weet dat ons verlossing in Christus veilig is. ʼn Predikant het op ʼn keer gesê: “Vreugde beteken nie dat lyding afwesig is nie. Vreugde is die teenwoordigheid van God.”

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS