Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 16

Vrug van die Gees 1: Liefde

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

GALASIËRS 5:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 13

34Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

JOHANNES 13:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus se lys van nege eienskappe wat ʼn Christen definieer is seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel. Let egter daarop dat dit eintlik een vrug met nege verskillende aspekte is en nie nege verskillende vrugte nie.

In die Bybel word daar na drie verskillende tipes liefde verwys. Daar is die Griekse woord phileo wat broederlike liefde beteken. Daar is ook die Griekse woord eros wat verwys na die passievolle en erotiese liefde tussen ʼn man en sy vrou. En dan is daar die Griekse woord agape wat verwys na die liefde wat God vir ons het. Dit is die kragtigste van die drie liefdes en dit is die liefde waarna daar in Johannes 13:34 verwys word. Ons moet mekaar liefhê met dieselfde liefde waarmee God ons liefhet.

Agape is die liefde wat onselfsugtig gee sonder om iets terug te verwag; dit is ʼn onvoorwaardelike liefde. Agape is ʼn liefde wat meer na die wil as die emosie verwys en beskryf God se onvoorwaardelike liefde vir die wêreld. Dit is nie per toeval dat dit die eerste eienskap is in die lys van die vrug van die Gees nie. Hoekom is liefde so belangrik in die lewe van Christus se volgelinge? Hoekom word liefde eerste genoem in die lys van die vrug van die Gees, en waarom word daar soveel keer daarna verwys in die Bybel, en so dikwels oor gepraat deur Jesus self? Sonder liefde is alles waardeloos. Ons plaas dikwels meer klem op geloof en werke as op liefde. Die feit is dat werke en geloof op liefde gebaseer moet wees. Wanneer ons goeie dade doen moet dit uit liefde en nie uit plig wees nie. Wanneer ons lofsange vir die Here sing, moet dit uit liefde vir Hom wees en nie omdat dit ons plig is nie.

Indien ons Jesus se gebod om mekaar lief te hê onderhou, sal die res wat ons beveel word om te doen as neweprodukte volg. Deur ons liefde sal ander ons as Christene erken. Kom ons wys hulle.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS