Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 15

Nederige ambisies

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 2

3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

FILIPPENSE 2:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die woordeboek word die woord “beskeie” as ʼn sinoniem vir nederigheid gegee. Wat beteken dit? Beteken dit dat indien ons daarna streef om in ons daaglikse lewe Christelike nederigheid uit te leef, ons al ons ambisies en al ons drome moet afskryf?

Glad nie! Paulus maak dit duidelik dat die motief agter dit wat jy wil bereik belangrik is. Hy het die brief aan die gemeente in Filippi geskryf omdat van die mense daar deur hulle gesindheid en aksies verdeeldheid gesaai het. Hulle wou erkenning hê vir dit wat hulle gedoen het en daarom was dit vir hulle onmoontlik om in liefde met ander in die kerk saam te werk. Hulle selfsugtige ambisie en desperate pogings om ʼn goeie indruk te maak, het die kerk se eensgesindheid tot niet gemaak. Dit is hierdie selfde ambisie wat vandag nog vrede en eensgesindheid in die werkplek en in gesinne vernietig.

Dit moet vir ons duidelik wees wie ons wil verheerlik. Wat jou werk ook al mag wees, dit is belangrik om doelwitte te stel vir die projekte waarmee jy besig is en om met toewyding te werk om hierdie doelwitte te bereik. Maar vra jouself die vraag: Werk jy hard ter verheerliking van God of om deur jou baas raakgesien te word? Die Here verdien die beste wat jy kan gee, en Hy wil hê dat jy jou talente op die beste moontlike manier moet gebruik.

Dink vandag ʼn oomblik na oor al jou ambisies. Indien jy al jou huidige doelwitte bereik, wie gaan die eer kry? Doen jy dit vir jouself of vir die Here? Dink na en stel vas of jy miskien enige veranderinge aan jou doelwitte moet maak, en vra die Here biddend om jou te help met jou persoonlike ambisies sodat sy wil in jou lewe kan geskied.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS