Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 11

Nederigheid teenoor hoogmoed

Bybelteks(te)

JAKOBUS 4

6Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:

“God weerstaan hoogmoediges,

maar aan nederiges gee Hy genade.”

Die volgende verhaal word vertel oor die beroemde bokser, Muhammad Ali. Eendag, toe Ali op die kruin van sy loopbaan was, was hy in ʼn vliegtuig wat op die punt was om te vertrek. Die vlugkelner het hom gevra om sy veiligheidsgordel vas te maak. Hy het kortaf gereageer: “Superman het nie ʼn veiligheidsgordel nodig nie.” Die vlugkelner het daarop geantwoord: “Superman het ook nie ʼn vliegtuig nodig nie.” Daarna het Ali sy veiligheidsgordel vasgemaak.

Muhammad Ali was bekend vir baie dinge, maar nederigheid was klaarblyklik nie een daarvan nie. Maar hy was een van die beste swaargewigte wat die sport nog ooit opgelewer het, en daarom het hy rede om ʼn bietjie hoogmoedig en trots te wees, mag jy dalk redeneer. Hy het dit verdien! Vandag se teks uit Jakobus draai so ʼn gesindheid op sy kop. Trots en hoogmoed het met wêreldgesindheid te make terwyl nederigheid godvresendheid weerspieël.

Gelukkig vir ons is God se genade groot. Dink ʼn bietjie daaroor. God skenk ons nie net genade nie, maar Hy gee ons groter genade. Hy skenk ons genade en dan gee Hy nóg meer. En dan, nadat Hy nog meer genade geskenk het, gee Hy nog genade. Hoeveel genade benodig ʼn man of ʼn vrou? Dis eenvoudig – méér!

Deur Spreuke 3:34 aan te haal wys Jakobus ons hoe ons hierdie oorvloedige, volgehoue genade van God ontvang. Sy genade is vir die nederiges en nie vir die hoogmoediges nie. Dit maak sin, want God se genade is onverdiende guns. Die rede vir genade kom van Hom wat dit gee en nie van die een wat dit ontvang nie. Net die nederiges kan dit ontvang want hulle kyk nie na hulself en gee redes waarom hulle liefgehê en geseën moet word nie. Nederigheid beteken dat ons weet God skuld ons niks en dat ons slegs om God se genade vra omdat Hy goed is en sodat Hy verheerlik kan word. Hoogmoed is die teenoorgestelde. Hoogmoed veronderstel dat God ons iets skuld en dit vra om genade omdat ons dink dat ons dit verdien.

CS Lewis het na hoogmoed as “geestelike kanker” verwys wat liefde en tevredenheid vernietig. Wanneer ons op God se ongelooflike genade fokus is daar geen plek vir hoogmoed nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS