Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 10

Dien van bo af

Bybelteks(te)

GENESIS 41

53Na die sewe jaar voorspoed in Egipte 54het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos, 55want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.”

GENESIS 41:53-55AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons beëindig ons studie oor diensbaarheid deur meer van Josef te leer. Josef was duidelik ʼn charismatiese man met ʼn sterk persoonlikheid; jy kan selfs sê hy was ʼn gebore leier. Hy het egter nie altyd dieselfde voorbeeldige leierseienskappe aan die dag gelê soos toe hy farao se tweede in bevel was nie. Die eerste keer wat ons met Josef kennis maak is hy 17 jaar oud en jaag hy sy broers die harnas in met die storie dat hy eendag oor hulle almal gaan regeer. Josef is taktloos en onsensitief vir die manier waarop sy broers reageer en dit het hom byna sy lewe gekos. (Jy kan meer oor sy verhaal in Genesis 37 lees).

Josef gaan van ʼn slaaf tot die belangrikste amptenaar in die land. Soos Josef volwasse geword het, het hy geleer om die karaktereinskappe waaroor hy inherent beskik het op so ʼn manier te ontwikkel dat dit hom gehelp het om ander te kon help. In elke situasie het hy die geleentheid raakgesien om ʼn leier te wees wat ander dien. Toe die farao hom oor die hele Egipte aangestel het en ook in beheer van die land se voedselvoorraad, kon hy gedoen het wat so baie leiers doen en sy mag misbruik het vir persoonlike gewin. Maar Josef het ʼn getroue rentmeester gebly. Hy het sy mag gebruik om na al die Egiptenare om te sien en sy familie te verenig.

Diensbaarheid kom in alle vorme. Miskien is jy soos Rut, stil en prakties en gaan aan met jou werk, of miskien is jy meer soos Josef, ʼn charismatiese en natuurlike leier. Dit maak nie saak wat jou persoonlikheid is of oor watter gawes en talente jy beskik nie, jy is volkome toegerus om God vandag te dien net soos jy is.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS