Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 31 Maart

Sameswering en verraad

Bybelteks(te)

MATTEUS 26

Jesus se dood word beplan

1Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: 2“Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.”

3In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. 4Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 5Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

MATTEUS 26:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 26

Judas onderneem om Jesus te verraai

14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

MATTEUS 26:14-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hoe gebeur dit dat ’n vertroueling ’n verraaier word? Dikwels bied konflik ’n vrugbare bedding vir sameswering en verraad. Konflik vind plaas wanneer daar botsende belange op die spel is.

Hoewel die Evangelie nêrens verduidelik wat Judas gemotiveer het om sy leermeester te verraai nie, vertel Matteus hoe die konflik tussen Jesus en die leiers van die Joodse volk die grond vir Judas se verraad voorberei het. Hulle het ’n tyd en geleentheid gesoek om Hom gevange te neem en dood te maak, maar hulle wou dit stil-stil doen sodat dit nie ’n openbare oproer veroorsaak nie. Toe een uit Jesus se binnekring kom aanbied om Hom in hul hande oor te lewer, was dit die ideale geleentheid om ontslae te raak van die Persoon wat soveel konflik veroorsaak.

Tog is dit ironies hoe Matteus hul onsekerheid met Jesus se voorafkennis kontrasteer. Die Joodse leiers begin slinkse planne beraam, maar wil dit nog nie tydens die paasfees tot uitvoer bring nie. Wanneer Judas van die priesterhoofde af vertrek, is hy nog maar op die uitkyk vir ’n geleentheid om Jesus te verraai. En tog sê Jesus reg aan die begin van die hoofstuk die Seun van die mens sal tydens die paasfees oorgelewer word om gekruisig te word. Hy weet presies wat om te verwag.

Wat bring mense daartoe om God te verwerp? Dikwels is dit ’n konflik van belange – wat ek begeer, is in stryd met God se wil. Soms soek ek ’n verskoning om my eie kop te volg en my eie begeertes na te jaag ongeag die skade wat dit aan ander doen. Soms doen die geleentheid hom net voor dat ek myself kan verryk, al weet ek dat my optrede nie met God se wil versoen kan word nie. Maar God ken ons. Juis daarom moes die Seun van die mens gekruisig word.

In Gesang 510 sing ons van God se onbeskryflik groot genade vir ’n wegloopkind wat sy eie kop gevolg het – totdat God hom weer teruggebring het na die vaderhuis. Kom ons bid vir elke wegloopkind.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS