Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 30 Maart

Konflik oor gesag

Bybelteks(te)

MATTEUS 23

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs

1Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

MATTEUS 23:1-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Matteus 21: 23 vertel dat die Joodse priesterhoofde en familiehoofde Jesus daar by die tempel kom vra met watter gesag Hy optree. Wie is hierdie vreemdeling uit Galilea immers dat Hy die tafels hier in die tempel kom omgooi?

Jesus se openbare uitlatings gooi eweneens die spreekwoordelike appelkar om. Hy sê vir die Joodse leiers: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in (Matt 21: 31). Met die gelykenis van die boere en die wingerd (Matt 21: 33-46) en die gelykenis van die bruilof (Matt 22: 1-14) sinspeel Hy daarop dat God die vooraanstaande mense in die gemeenskap sal verwerp en gewone mense van die straat af roep – mense wie se lewens vrugte sal dra wat aan God erkenning gee.

Jesus uitoorlê elke keer die skrifgeleerdes wat Hom strikvrae vra oor belasting (Matt 22: 15-22), die opstanding uit die dood (Matt 22: 23- 33) en die grootste gebod in die wet (Matt 22: 34-40). En dan daag Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs se gesag direk uit (Matt 23: 1-12)! Met hul verstaan van die wet van Moses lê hulle swaar en ondraaglike laste op mense, terwyl hulle self allerlei maniere vind om die eise van die wet te omseil. Hulle doen alles slegs ter wille van openbare aansien.

Nee, sê Hy vir die skare wat na Hom luister, julle moet nie op titels gesteld wees nie; julle moet nederig wees en dien! Dit word ’n vraag na die gronde vir gesag. Wat gee ’n mens enige aanspraak op gesag? Vroomheid? Kennis? Status? Finansiële vermoë? Nee, sê Jesus, diens.

Wat gee ons, die kerk van Christus, enige aanspraak op gesag in ons wêreld? Bepaald nie al die swaar laste wat ons met ons Skrifuitleg op gewone mense se keuses en alledaagse lewens laai nie. Nee, veel eerder die liefde waarmee ons luister en die manier waarop ons dien. Wanneer ons met die Bybel onder die arm vinger wys na ander, stoot ons mense af. Wanneer ons luister en ’n voorbeeld stel, gee ons gestalte aan God se koninkryk in ons wêreld. Dan dra ons optrede gesag.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS