Begin nuut … – Dag 7
Begin nuut ... bou op die regte fondament
Bybelteks(te)
PSALMS 127
As die Here die huis nie bou nie
Op ʼn dag was daar ʼn verstandige man wat sy huis op ʼn rots gebou het. Die reën het geval, vloedwaters het gekom en die winde het aan die huis geruk. Tog het die huis nie ineengestort nie, want die huis se fondament was op die rots.
Sy buurman het sy huis op die sand gebou. Die reën het geval, vloedwaters het gekom en die winde het aan die huis geruk. Die huis het ineengestort en is heeltemal verwoes.
Kom ons lees oor ʼn soortgelyke storie:
Op ʼn dag was daar ʼn verstandige man wat saam met sy gesin hulle lewens met God as hul fondasie gebou het. Die stortreën – in die vorm van werkstres, potensiële buite-egtelike verhoudings, finansiële probleme en siekte – het hard aan hul gesin se lewens geruk. Tog het hulle telkens saam na God gegaan om Hom vir hulp gevra. Hul liefde vir God en vir mekaar het hulle keer op keer deurgedra, want hul huwelik was op God as hulle fondament gebou.
Hierdie familie se bure het hulleself “Christene” genoem, maar nie hulle verhouding met God ʼn prioriteit gemaak nie. Die stortreën – in die vorm van werkstres, potensiële buite-egtelike verhoudings, finansiële probleme en siekte – het hard aan hul gesin se lewens geruk. Nie net het hulle voor die versoekings geswig nie, maar die druk het hulle as gesin uitmekaargedryf. Uiteindelik het hul lewens ineengestort omdat hulle nie die regte fondament gehad het nie.
Luister na die woorde in Psalm 127:1: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.”
Waarop bou jy jou lewe? Sal jy staande bly as die reën val, die vloedwaters kom en die winde aan jou lewe begin ruk? Kom ons kies vandag saam om God die fondament in ons lewens te maak! Sterkte.