Begin nuut … – Dag 6
Begin nuut … om weer lief te hê
Bybelteks(te)
1 JOHANNES 4
MARKUS 11
Ek kry gereeld mense wat my vra of ek dink dat God vir hulle ʼn tweede kans op geluk sal gee na ʼn mislukte verhouding. Hierdie storie mag jou dalk help om jou oë oop te hou en ook elke geleentheid aan te gryp:
Langs tannie Marie se oop graf het oom Sarel hartverskeurend gehuil. Haar dood was vir hom ʼn groot slag. Die meeste van die buurmense in die aftreeoord het langs die graf verbaas na mekaar gekyk. Niemand het ooit besef dat oom Sarel, die “groot, sagte reus” soos almal hom geken het, eintlik so baie vir sy buurvrou omgegee en haar liefgehad het nie.
Nadat die meeste van die roubeklaers die begraafplaas verlaat het, het die predikant na oom Sarel gestap waar hy steeds hartverskeurend langs die graf gestaan en huil het. “Oom Sarel,” het die predikant met ʼn sagte stem gesê. “Ek is seker tannie Marie is nou op ʼn beter plek en dat sy jou liefde baie waardeer het terwyl sy nog geleef het.” Hierop het oom Sarel egter net harder gesnik.
Toe oom Sarel effens bedaar, het hy stadig sy kop na die predikant gedraai en gesê: “Dominee, ek was vir jare lank lief vir daardie vrou. En daar was ʼn dag wat ek haar ámper daarvan vertel het! Maar ek het nie – en nou is dit te laat!”
Ná oom Sarel se egskeiding ʼn paar jaar vantevore het hy homself voorgeneem om nooit weer sy hart vir liefde oop te stel nie uit vrees dat hy weer sou seerkry. Langs tannie Marie se graf het hy meteens besef dat sy vrees hom van ʼn tweede kans op liefde en geluk beroof het.
Sit jy in ʼn soortgelyke situasie as oom Sarel? Het ʼn gebroke verhouding uit die verlede veroorsaak dat jy ook jou hart gesluit het vir ʼn tweede kans op geluk? Het ʼn vriendin, vriend of familielid jou in die verlede teleurgestel of seergemaak wat veroorsaak dat jy geen merkwaardige vriendskappe het nie of dat jy nie meer met jou familie praat nie?
Lees gerus Paulus se woorde in 1 Johannes 4:18-19: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees (…) Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” In Markus 11:25 staan: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”
God kan hartseer genees. Hy kan vir jou ʼn tweede kans op liefde en geluk gee. Begin om te vergewe en kies om jouself nie langer te isoleer of om mense uit jou lewe te sluit nie. Niks kan slegter wees om soos oom Sarel langs ʼn oop graf te staan en te besef dat jy nooit weer ʼn geleentheid sal hê om aan ʼn geliefde te sê dat jy hom of haar liefhet en waardeer nie! Sterkte.