Begin nuut … – Dag 8
Begin nuut ... om Hom vir beskerming te vertrou
Bybelteks(te)
PSALMS 121
Ek deel graag twee mense se getuienisse oor hoe God ons beskerm en van ons krisisse weet.
Leser 1, Shani: “Ek het een aand ʼn vreemde droom gehad waarin my oorlede oupa en my man gesit en gesels het. Die volgende oggend het ek vir God gevra om my deur sy Heilige Gees te lei om die boodskap in die droom uit te lê aangesien my oupa toe reeds tien jaar dood is.
In my gees het ek ervaar dat ek vir my man se veiligheid moes bid. Ek het die hele dag die bloed van Jesus Christus oor hom gepleit.
Ná ʼn besige dag by die werk, het my man tuisgekom. Ek het hom onmiddellik gevra of hy daardie dag in enige gevaar was. Met ʼn verbaasde uitdrukking op sy gesig het hy geantwoord: ‘Ja, ek het ʼn kop-aan-kop botsing letterlik met sekondes gemis!’ In my hart het ek God geloof en geprys dat Hy my vooraf gewaarsku het om vir my man se veiligheid te bid. Alle eer gaan aan Hom!”
Leser 2, Henk: “ʼn Paar Sondae gelede het my motor se battery (wat minder as twee jaar oud is) meteens foutief geraak. My moed het in my skoene gesak aangesien ek onnodige kostes sou moes aangaan om dit te herstel.
Daardie Maandagoggend het ek ʼn alternatiewe roete werk toe geneem om sodoende ʼn nuwe battery te gaan koop. Net voordat ek op die snelweg sou draai, het ek ʼn man gesien wat ʼn saamrygeleentheid soek. Hy het baie desperaat gelyk. Hoewel ek ʼn beleid het om nie rylopers op te tel nie, het ek in my hart ervaar dat ek die man met ʼn saamrygeleentheid moes help.
In die motor het ons het aan die gesels geraak. Die man, Willem, het my vertel dat hy in Pretoria kom werk soek het. Nadat hy in September verlede jaar sy werk verloor het, moes hy en sy gesin noodgedwonge al hulle waardevolle besittings begin verkoop om aan die lewe te bly. Op daardie stadium was hy en sy gesin reeds vir drie dae lank sonder kos. Dit het hom as pa van die huis gebreek.
Een van sy grootste uitdagings was om sy gereedskapstas, wat hy vroeër uit desperaatheid moes verkoop om kos te koop, terug te kry. As ambagsman het hy ʼn potensiële werksgeleentheid gehad mits hy sy gereedskap betyds kon terugkry. Weer het ek ervaar dat God my gelei het om hom te help. Ons het na Benoni vertrek na die winkel waar hy vroeër sy gereedskapstas verkoop het en dit terugkoop.
Later het Willem my vertel dat hy daardie dag langs die pad op moedverloor se vlakte was. Hy was op die punt om selfmoord te pleeg, maar toe stop ek langs die pad om hom op te laai. Ek staan verstom oor God se begeerte om ons in ons moeilike tye te help. En ek prys Hom vir die voorreg dat Hy my daardie dag met ʼn ompad werk toe gestuur het sodat ek vir Hom ʼn instrument kon wees!”
Shani en Henk is reg. God wil ons help en beskerm. Luister maar na die woorde in Psalm 121:7-8: “Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”
God ken ons verlede en ons huidige krisisse, maar Hy weet ook wat Hy vir ons in die toekoms beplan. Kom ons kies om Hom te vertrou om ons daagliks te beskerm en ons deur ons krisisse te dra. Sterkte.