Begin nuut … – Dag 5
Begin nuut … met stabiliteit in jou lewe
Bybelteks(te)
JESAJA 26
PSALMS 34
PSALMS 34
JEREMIA 17
Het jy al ooit gesukkel met ʼn stoel met gladde pote wat aanhoudend op die vloer gly? Buiten vir die merke wat die stoelpote agterlaat, moet ʼn mens konsentreer om nie van die stoel af te val as dit rondskuif nie. Die beste manier om dié probleem op te los, is om ronde stukkies rubber onderaan die stoelpote vas te plak. Só maak jy die stoel stweig en kan dit nie sommer rondskuif nie.
Wanneer ons deur ʼn krisis in ons lewens gaan, voel ons soms soos die stoel wat buite beheer rondskuif. In hierdie tye moet ons konsentreer om nie beheer van ons lewens te verloor nie. In die Bybel was daar verskeie mans en vroue wat hulself ook in desperate situasie bevind het. Dink byvoorbeeld aan Josef alleen in ʼn tronksel in Egipte, Jona op pad na Tarsus in stede van Nineve, Gideon wat met net 300 mans ʼn oorlog teen ʼn weermag van derduisende mans binnestap of Ester wat haar lewe gewaag het om na die koning te gaan om vir die oorlewing van die Jode te pleit.
Sit jy vandag met ʼn krisis in jou lewe wat dit moeilik maak om te vertrou dat God vir jou ʼn deurbraak gaan bewerkstellig? Voel jou lewe totaal buite beheer? Dit is dan tyd dat jy rubber aan die onderkant van jou “stoelpote” begin plak. Hoe doen jy dit? Jy gaan terug na die Woord en begin jouself herinner aan wie God is en wat Hy vir jou kan doen. Hier is vier beloftes – een vir elke poot van jou stoel:
- 1.Jesaja 26:4: “Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ʼn veilige toevlug.”
- 2.Psalm 34:6,19: “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie (…) Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
- 3.Psalm 31:23: “Ek het in my angs gedink: Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. Tog, U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het.”
- 4.Jeremia 17:7-8: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ʼn veilige vesting is; so iemand is soos ʼn boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het …”
God verdryf vrees en bring stabiliteit aan die onstabielste situasies. Al wat ons moet doen is om Hom in ons lewens te nooi. In die donkerste tye van ons lewens ervaar ons sy krag gewoonlik die duidelikste. Neem beheer, plak jou rubber en voel hoe God se vrede oor jou lewe neerdaal! Hy verander nooit nie. Sterkte.