God gee oorwinning aan sy volk
1Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word:
Ons het 'n sterk stad,
God beskerm ons met mure, met 'n vesting.
2Maak oop die poorte
dat die nasie wat gered is, kan ingaan,
die nasie wat aan God gehoorsaam is
3en wat op Hom vertrou.
Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here,
want hulle het hulle vertroue op U gestel.
4Vertrou altyd op die Here,
want die Here God is 'n veilige toevlug.
5Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe,
Hy gooi hulle hoë stadsmure om,
Hy maak dit gelyk met die grond
en laat lê dit in die stof.
6Hulle sal onder die voete vertrap word,
onder die voete van onderdruktes;
die armes sal op hulle trap.
7Die pad van die regverdige is reguit,
U maak sy pad gelyk.
8Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.
Ons wil u Naam eer en U aanroep.
9In die nag smag ek na U,
in die môre vra ek na u wil.
Wanneer U die aarde straf,
leer sy inwoners wat geregtigheid is.
10Daar word goed gedoen aan die goddeloses,
maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie,
hulle verdraai die reg
en erken nie die mag van die Here nie.
11U staan gereed om hulle te straf, Here,
maar hulle steur hulle nie daaraan nie.
Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom:
laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk,
laat vuur hulle verteer.
12U regeer in vrede oor ons, Here,
U doen alles vir ons.
13Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer,
maar ons wil net ú Naam onthou.
14Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie,
hulle gees sal nie weer opstaan nie.
U het hulle gestraf en uitgewis,
U maak dat niemand meer aan hulle dink nie.
15Here, U het u volk meer laat word,
U het hulle meer laat word
en hulle landsgrense uitgebrei.
So het U u mag getoon.
Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe
16Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem,
toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep.
17Soos 'n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy 'n kind in die wêreld wil bring,
so, Here, is ons in u teenwoordigheid.
18Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn,
maar ons het niks in die wêreld gebring nie:
ons het nie 'n redder vir die land gegee nie,
en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie.
19Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here,
hulle sal opstaan.
Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is!
Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here,
die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.
20Gaan in julle slaapkamers in, my volk,
sluit die deure agter julle toe.
Kruip 'n rukkie weg totdat God klaar is met straf.
21Die Here kom uit sy woonplek te voorskyn
om die bewoners van die aarde te straf oor hulle ongeregtighede.
Die aarde sal vertel van die bloed wat daarop vergiet is
en sal nie meer die mense wat vermoor is, wegsteek nie.